Nuus 11:00
BULLETIN 10 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum herhaal sy oproep aan Cyril Ramaphosa om te bedank ná die Phala Phala-saak
# Die Kaap de Goede Hoop DBV gaan sy reaksie op diere in nood prioritiseer tydens gure weer
# En tennis: Sinner begin sy aanslag op die Italiaanse Ope en die vroue-gunsteling Sabalenka word vroeg uitgeskakel
# Die Activists and Citizens Forum herhaal sy oproep aan president Cyril Ramaphosa om te bedank ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala Phala-saak. Die Hof het Vrydag beslis die Nasionale Vergadering se stemming in die Parlement oor die Phala Phala‑saak is ongeldig en ongrondwetlik. Woordvoerder, Dennis Bloem, sê Ramaphosa is net ‘n verleentheid en hy moet die land se belang bo sy eie belange stel:
# Die Kaap de Goeie Hoop‑DBV en die Stad Kaapstad se Rampbestuursentrum gaan diere in nood prioritiseer tydens die ongunstige weerstoestande wat na verwagtig tot Dinsdag sal voortduur. Die Kaap de Goeie Hoop DBV se woordvoerder, Belinda Abraham, sê troeteldiere moet indien moontlik, binnenshuis wees. Sy sê indien dit nie moontlik is nie, word eienaars aangeraai om ‘n waterdigte hok te voorsien wat van die grond af gelig en uit die wind is.
# Die polisie het met die ondersteuning van sy misdaadbestrydingsvennote, verlede maand tydens landwye operasies nagemaakte goedere ter waarde van meer as 17-miljoen-rand gekonfiskeer en 16 verdagtes in hegtenis geneem. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê hierdie operasies het gelei tot die beslaglegging van groot hoeveelhede nagemaakte en onwettige goedere, insluitend handelsmerkklere, sportklere, selfoonbykomstighede, speelgoed, farmaseutiese produkte, verbruiksgoedere, asook vervalste drank en sigarette:
# ActionSA het Nasiphi Moya aangewys as die party se burgemeesterskandidaat vir die Stad Tshwane voor die komende plaaslike regeringsverkiesing in November. ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, sê toe Moya die leisels in Tshwane oorgeneem het, het sy ‘n absolute ramp geërf. Hy sê dekades van finansiële ondergang, vervalle infrastruktuur en die arrogansie van loopbaanpolitici het die hoofstad geknak. Hy voeg by Moya het sonder om verskoning te maak ingegryp met ‘n verbintenis tot daadwerklike optrede:
# Tennis: Jannik Sinner het gister sy Italiaanse Ope-veldtog begin met ‘n oorwinning van 6-3, 6-4 oor Sebastian Ofner. Hy hoop om sy bestaande rekord van vyf agtereenvolgende Meesters Een-duisend-toernooi-oorwinnings te verbeter. Sinner het sy 24ste agtereenvolgende wedstryd in een uur en 40 minute gewen en sal in die derde ronde teen Alexei Popyrin of Jakub Mensik te staan kom. Geen Italianer kon sedert Adriano Panatta 50 jaar gelede by die Foro Italico wen nie, en met Carlos Alcaraz buite aksie, hoop Sinner om beter te vaar as verlede jaar toe hy in die eindstryd teen sy groot mededinger verloor het.
En in die vroue-loting is die wêreldnommer-een en gunsteling vir die toernooi, Aryna Sabalenka, in die voetspore van die manstennis-ikoon Novak Djokovic gevolg. Sy is vroeg uitgeskakel met ‘n nederlaag in drie stelle teen Sorana Cirstea. Sabalenka was sigbaar gefrustreerd met haar ongewoon slordige vertoning op die hoofbaan. Intussen het Jasmine Paolini se verdediging van haar Italiaanse Ope-titel ook vroeg tot ‘n einde gekom nadat die tuisgunsteling deur Elise Mertens met 4-6, 7-6, 6-3 uitgeskakel is. Die Franse Ope-kampioen Coco Gauff het meer as twee uur nodig gehad het om die Argentyn Solana Sierra met 5-7, 6-0, 6-4 te klop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….