Nuus 11:00
BULLETIN 9 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU sê die Konstitusionele Hof-uitspraak oor Phala-Phala regverdig sy 2022-oproep vir Ramaphosa se bedanking
# NSFAS sê professor Mathebula se aanstelling is die begin van ‘n nuwe era
# En: Minister Godongwana sê die Stad Johannesburg worstel met ‘n finansiële krisis
# SAFTU verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala-Phala-skandaal. Asive Dyani van SAFTU sê egter hulle is bekommerd oor die onregmatige wyse waarop die Parlement president Cyril Ramaphosa beskerm het teen grondwetlike aanspreeklikheid. Sy sê die uitspraak regverdig SAFTU se standpunt in Desember 2022, toe hulle Ramaphosa gevra het om te bedank ná plofbare onthullings oor die diefstal van versteekte buitelandse valuta op sy plaas Phala-Phala:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê Hlengani Mathebula se aanstelling as sy nuwe administrateur is die begin van ‘n nuwe era. Woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê Mathebula vervul hierdie rol in ‘n deurslaggewende oomblik vir die skema en die breër hoër onderwys- en opleidingsektor. Hy sê NSFAS is ‘n hoeksteen van Suid-Afrika se verbintenis tot maatskaplike geregtigheid, en bied toegang tot hoër onderwys en opleiding vir jongmense uit ekonomies-benadeelde agtergronde:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, doen ‘n beroep op die Stad Johannesburg om ernstige regstellende stappe te oorweeg om kommer oor finansiële volhoubaarheid en die nakoming van finansiële bestuurswette aan te pak. Dit volg ná ‘n vergadering met die burgemeester, Dada Morero, gedryf deur ‘n toenemende kontantvloeikrisis waarin die metro 25,2-miljard-rand aan krediteure skuld maar slegs 3,9-miljard-rand in kontant hou. Hierdie skuld het toegeneem van 17-miljard-rand in die 2022/2023-boekjaar tot 25,2-miljard-rand in die 2024/2025-boekjaar. Godongwana het die stad opdrag gegee om ‘n salarisverhogingsooreenkoms van 10,3-miljard-rand met die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie te staak.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n veiligheidsherroeping van Bridgestone Duravis R660 Eco-bande aangekondig. Die bande wat op sommige Ford- en Volkswagen-ligte handelsvoertuie gemonteer is, is glo meer geneig tot snye en skade wat tot loopvlakskeiding kan lei en voertuigbeheer kan beïnvloed, en die risiko van ongelukke verhoog. Die bande is tussen Oktober 2023 en November 2025 in Suid-Afrika verkoop. Phetho Ntaba van die kommissie het verbruikers aangespoor om die betrokke bande onmiddellik te laat vervang:
# Krieket: Die Kiwi-Finn Allen het ‘n manjifieke onoorwonne honderdtal geslaan om die Kolkata Knight Riders Vrydagaand tot ‘n oorwinning van agt paaltjies oor die Delhi Capitals in Delphi te lei. Dit was KKR se vierde agtereenvolgende oorwinning nadat hulle slegs een punt in hul eerste ses wedstryde aangeteken het. Delhi, daarenteen, sak al hoe laer op die punteleer met slegs agt punte. Hulle het sedert verlede jaar slegs twee uit tien wedstryde tuis gewen en kon nog nooit wen as hulle eerste gekolf het nie. Allen het sy 100-tal met die laaste bal van die wedstryd aangeteken. Hy het slegs 47 balle nodig gehad om vyf viere en ‘n 10 sesse te slaan.
# En, atletiek: Die sewemalige Olimpiese goue medaljewenner Allyson Felix mik na ‘n plek in Amerika se gemengde vier-by-400‑meter-aflosspan in die 2028‑Spele in Los Angeles. Dit sal haar sesde Olimpiese Spele wees, wat in haar tuisdorp plaasvind. Die 40‑jarige het verlede maand aangekondig sy wil terugkeer. Felix is die mees bekroonde vroue baan‑ en veldatleet van alle tye. Sy het in 2022 uitgetree met 11 Olimpiese medaljes en op 35‑jarige ouderdom goud gewen in die vroue se vier-by-400‑meter in die Tokio‑Spele.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….