Nuus 11:00
BULLETIN 8 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s verwag dat die regering van nasionale eenheid sal hou tot die algemene verkiesing van 2029
# Minister Creecy sê die Departement Vervoer werk saam met gesondheids-amptenare om hantavirus-gevalle te monitor
# En krieket: Die veteraan-kolwer Kane Williamson toer saam met die Swartpette vir toetse teen Ierland en Engeland
# Die kredietgraderingsagentskap Moody’s glo die regering van nasionale eenheid sal voorlopig voortbestaan omdat die ANC én die DA sal baat as hulle bestendigheid kan verseker in aanloop tot 2029 se algemene verkiesing. Suid-Afrika se munisipale verkiesing vind op 4 November plaas. Moody’s sê die 2027- tot 2029-verkiesingsiklus sal hervorming se duursaamheid toets, maar die risiko van ʼn drastiese beleid-ommekeer is beperk. Die land se hervormingsprogram het effens versnel onder die koalisie-regering, insluitend pogings om Transnet se spoor- en hawenetwerk te herstel.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê hulle werk saam met die Gesondheidsdepartement om moontlike hantavirus-gevalle in Suid-Afrika op te spoor en te monitor. Dit volg na die dood van drie mense wat verbind word met die uitbreking op die Nederlandse passasierskip, MV Hondius. Een van die passasiers het op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng inmekaargesak. Die Gesondheidsdepartement hou vier moontlike gevalle in die Wes-Kaap dop. Creecy sê die land is gereed om gevalle te hanteer:
# Die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum sê damvlakke het skerp gestyg ná swaar reën, met verskeie damme wat tans oorloop. Sekere damme in die Tuinroete en die Sentrale Karoo het binne ure vanaf lae vlakke tot meer as 100-persent gestyg, wat kommer veroorsaak oor moontlike oorstromings stroomaf. Colin Deiner van die sentrum sê die vinnige styging ná ‘n lang droogte word fyn dopgehou, terwyl riviere, riviermondings en omliggende gemeenskappe voortdurend gemonitor word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, dreig om hoër tariewe op die Europese Unie te hef as hy nie teen 4 Julie sy heffings op Amerika afskaf nie. Die EU en Amerika het verlede Julie ‘n ooreenkoms aangegaan wat die heffing op die meeste Europese goedere op 15-persent vasgestel het. Trump is egter ontevrede met die tempo van die toepassing van die ooreenkoms. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê goeie vordering is gemaak met die tariefverlaging:
# Krieket: Die veteraan-kolwer Kane Williamson sal vir Nieu-Seeland speel in toetse teen Ierland en Engeland nadat hy ingesluit is in die toergroep van 19 spelers. Die 35-jarige voormalige kaptein het reeds nege-duisend-461 lopies aangeteken en hoop om dit in Europa 10-duisend te maak. Hy het in Desember gesê hy oorweeg om uit te tree, maar het hom nou tot die Swartpette se volgende vier toetse verbind. Hulle speel van die 27ste ‘n eenmalige toets teen Ierland in Belfast voor ‘n reeks van drie wedstryde teen Engeland vanaf 4 Junie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-30 teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-306-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-721-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….