Nuus 11:00
BULLETIN 6 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê daar is geen xenofobie in Suid-Afrika nie
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sê “Operation Epic Fury” teen Iran is afgehandel
# En rugby: Die Bok-senter Jan Serfontein tree uit ná ‘n roemryke loopbaan
# Adjunkpresident Paul Mashatile het herbevestig dat daar geen xenofobie in Suid-Afrika is nie en beklemtoon dat die land nie teen buitelanders gekant is nie. Dit volg terwyl teen-immigrasiegroepe die streng afdwinging van immigrasiewette en massa-deportasies eis. Oor die afgelope twee boekjare het deportasies met 46-persent gestyg, wat teen 31 Maart op meer as 109-duisend te staan gekom het. Mashatile sê haat teenoor mede-Afrikane kan nie geduld word nie:
# Die EFF sê hy was die enigste en volgehoue stem wat aanspreeklikheid eis vir die misdadigheid, geheimhouding en magsmisbruik rondom die Phala Phala-skandaal. Die Konstitusionele Hof sal Vrydag beslis of die Parlement wettig opgetree het toe hy ‘n Artikel 89-paneelverslag verwerp het, wat ‘n ampsklagondersoek teen president Cyril Ramaphosa aanbeveel het. Thembi Msane van die EFF sê hulle wag op hete kole:
# Die ANC in Johannesburg het kommer uitgespreek oor die bevestigde Hantavirus-geval in die metro. ‘n Britse burger ontvang tans behandeling in ‘n privaat hospitaal in Sandton vir die seldsame maar dodelike siekte. Hy is een van vyf vermeende gevalle wat gekoppel is aan ‘n uitbreking op ‘n Nederlandse passasierskip waartydens drie mense dood is. Die ANC sê Suid-Afrika het beperkte geskiedkundige blootstelling aan die virus en daarom noodsaak die teenwoordigheid van ‘n bevestigde geval die hoogste vlak van voorsorgmaatreëls en vasgestelde belyning.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die aanvanklike Amerikaans-Israelse aanslag teen Iran, Operasie Epic Fury, is verby nadat die doelwitte bereik is. Die vlaag lugaanvalle het op 28 Februarie begin. Teheran het gereageer deur die Seestraat van Hormoes te versper waardeur 20-persent van die wêreld se olie- en vloeibare aardgas-voorraad gewoonlik beweeg. Rubio sê die aanvalle het groot skade aangerig aan Iran se ekonomie en verdedigingsvermoë:
# Rugby: Die Bulle se Springbok-senter, Jan Serfontein, het uitgetree na ‘n roemryke beroepsloopbaan van 15 jaar. Die 33-jarige Serfontein het in 35 toetse vir Suid-Afrika uitgedraf, asook in 2015 se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Hy het vyf seisoene vir die Bulle gespeel voordat hy in 2017 by die Franse klub Montpellier aangesluit het. Daar het hy oor agt seisoene meer as 140 wedstryde gespeel en die Top 14-titel in 2022 gebuit. Serfontein het verlede jaar na die Bulle teruggekeer, maar dis deur ʼn ernstige kniebesering kortgeknip.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-486-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-665-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….