Nuus 11:00
BULLETIN 5 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC sal seker maak hy regeer nie weer in koalisies nie
# Zelensky kondig ‘n skietstaking van twee dae aan vir Rusland se herdenking van die Tweede Wêreldoorlog
# En gholf: Die beseerde Pavan hoop om een of ander tyd terug te keer na sy fratsongeluk in Stellenbosch
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party sal alles moontlik doen om nie weer in koalisies te regeer nie. Die munisipale verkiesing vind op 4 November plaas, en die ANC het slegs in twee van die land se agt metro’s ‘n volstrekte meerderheid. Mbalula sê die ANC se krag op voetsoolvlak om dienste te lewer, is deur koalisie-politiek verswak. Hy sê lede gaan nie toegelaat word om op te tree sonder die inagneming van die party se beginsels en dissipline nie:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor die Staatsdiens en Administrasie het kommer uitgespreek oor honderde staatsamptenare wat met volle betaling geskors bly en die staat sowat 800-miljoen-rand per jaar kos. Volgens ʼn verslag van die Staatsdienskommissie is 674 provinsiale en nasionale amptenare tans geskors, waarvan 516 langer as die voorgeskrewe 90 dae geskors is. Die komitee se voorsitter, Jan de Villiers, sê hulle gaan die minister vir die Staatsdiens en Administrasie, Inkosi Mzamo Buthelezi, vra om die komitee oor die saak in te lig:
# Die Mededingingskommissie het MultiChoice en Altech UEC na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging oor beweerde onmededingende gedrag. Die kommissie beweer die twee maatskappye het in 2014 ‘n ooreenkoms aangegaan oor die verskaffing van dekodeerders vir betaaltelevisiedienste, met Altech wat na bewering ooreengekom het om nie in sekere markte mee te ding nie. Die kommissie vra die tribunaal om te beslis die gedrag was onwettig en om boetes van tot tien-persent van die maatskappye se jaarlikse omset te hef.
Nuus uit die buiteland:
# Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, het ‘n skietstaking met Rusland aangekondig vir Donderdag en Vrydag sodat Moskou sy oorwinning oor Nazi-Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog kan vier. Dit word jaarliks herdenk met ‘n Weermagparade op die Rooi Plein. Oekraïne het Rusland al telkens daarvan beskuldig dat hy vorige tydelike skietstilstande geskend het. Zelensky het Europese leiers gevra om druk op Rusland vol te hou met meer sanksies:
# Gholf: Die Italianer Andrea Pavan hoop om mettertyd terug te keer nadat hy in Februarie veelvuldige beserings opgedoen het in ‘n fratsongeluk in Suid-Afrika. Hy was in Stellenbosch om aan die Suid-Afrikaanse Ope deel te neem, en het die dag voor die toernooi drie verdiepings ver in ‘n hysbakskag afgeval. Die 36-jarige het groot operasies ondergaan en moes weke lank in die land bly voordat hy kon terugkeer na sy huis in Texas, Amerika. Pavan sê dit kan nog maande duur, maar glo hy sal ten volle herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-47-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-549-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 111-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….