Nuus 11:00
BULLETIN 4 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die geskiedkundige onreg van kolonialisme in Afrika moet met eerlikheid en integriteit teengestaan word
# Trump sê die Amerikaanse Weermag sal gestrande skepe deur die Seestraat van Hormoes lei
# En rugby: Die afrigter van die Junior Bokke loof groei en geloof vir die welslae in die Onder 20-Rugbykampioenskap
# President Cyril Ramaphosa sê Afrikane moet trots wees op ‘n gedeelde identiteit oor geografiese grense, ondanks die vasteland se vele tale en kulture. Mei is Afrika-maand en herdenk die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief al het die meeste Afrikalande onafhanklikheid verkry, is die uitwerking van kolonialisme te sien in ongelykheid, ekonomiese uitsluiting, politieke onbestendigheid en konflik. Hy sê die geskiedkundige onreg van kolonialisme moet met eerlikheid en integriteit teengestaan word.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê toenemende gevalle van kinders wat seksueel misbruik word en tienerswangerskappe bly ʼn nasionale verleentheid. Volgens die Nasionale Kinderbeskermingsregister is agt-duisend-984 gevalle van kindermishandeling en drie-duisend-258 gevalle van seksuele misbruik in die derde kwartaal van die vorige boekjaar aangemeld. Meer as 100-duisend kinders en tieners raak jaarliks swanger. Woordvoerder Sandy Godlwana sê ʼn dringende en gekoördineerde nasionale poging is nodig om kinders te beskerm:
# Die Soil of Africa Movement sê die ontvoering van die sakeman van Vosloorus, Mazwi Kubheka, weerspieël ʼn groter krisis onder swart ondernemings wat gebuk gaan onder vrees, intimidasie en afpersing. Hy het Saterdag by die plaaslike polisiekantoor aangemeld nadat hy ʼn maand lank vermis was. Hy is volgens berigte ontvoer ná ʼn geskil oor sakebelange. Die beweging se leier, Bongani Ramontja, sê daar moet volledig ondersoek ingestel word na misdaadsindikate wat met ontvoering en afpersing verbind word:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump sê die Amerikaanse Weermag sal vandag begin om gestrande skepe uit die Seestraat van Hormoes te lei. Volgens die Internasionale Maritieme Organisasie kon meer as 800 skepe en tot 20-duisend seevaarders nie deur die roete beweeg tydens die Amerikaans-Iranse konflik nie. Trump sê in ʼn inskrywing op Truth Social hy stel die veldtog, Projek Vryheid, in op versoek van lande wie se vaartuie in die seestraat gestrand is. Hy waarsku dat enige inmenging met geweld beantwoord sal word.
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbokke, Kevin Foote, het sy groep geluk gewens vir hul groei en gesamentlike vertroue om die Onder-20 Rugby-kampioenskap in Gqeberha in te palm met nog ‘n wedstryd oor. Dit volg nadat Suid-Afrika Australië 57-17 oorrompel het. Foote sê hoewel fisieke oorheersing ‘n kenmerk van hul spel bly, het die groep ‘n sterker en hegter idenititeit ontwikkel. Hy het kaptein Riley Norton en die leierskapspan ook geluk gewens met hul leiding. Die Junior Bokke en Nieu-Seeland pak mekaar Saterdag in die laaste ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-883-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-589-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….