Nuus 11:00
BULLETIN 2 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile vertrou die ANC gaan die plaaslikeregeringsverkiesing wen
# Die president van COSATU loof die Madlanga-kommissie se werk
# En rugby: Franse, Ierse en Engelse spanne sê mekaar die stryd aan in Kampioenebeker-halfeindronde
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die sukses van die komende plaaslikeregeringsverkiesing is van kritieke belang en sê hy is vol vertroue dat die ANC op 4 November as oorwinnaar sal uit die stryd tree. Mashatile het in Limpopo beklemtoon dat die party ‘n veldtog voer om te wen, nie net om deel te neem nie. Hy het die ANC se rol, saam met sy alliansievennote, in die bevordering van dienslewering en transformasie beklemtoon. Hy het ook ‘n beroep gedoen op eenheid om ekonomiese bevryding te bevorder en ‘n inklusiewe ekonomie te bou:
‘n Sentralekomiteelid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Alex Mashilo, vra intussen vir kalmte en dissipline te midde van die voorbereidings vir die plaaslikeregeringsverkiesing-veldtog. Die SAKP neem vir die eerste keer sonder sy alliansievennoot, die ANC aan die verkiesing deel. Mashilo beklemtoon dat verkiesings nie die breër doelwitte van die party en sy alliansievennote moet oorskadu nie. Hy waarsku ook dat verkose vakbondverteenwoordigers nie hul posisies as persoonlike eiendom moet toeëien nie:
# Die president van Cosatu, Zingiswa Losi, het die Madlanga-kommissie geloof as moontlik die mees effektiewe ondersoek in die land se geskiedenis. Die kommissie ondersoek bewerings wat in Junie verlede jaar deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi gemaak is oor politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel. Losi het tydens ‘n Werkersdag-saamtrek in Polokwane, Limpopo, gesê herhaalde verskynings voor die kommissie lei tot aanspreeklikheid:
# Eskom sê vordering deur sy opwekkingsherstelplan het die bestendigheid van die kragstelsel aansienlik verbeter, met geen beurtkrag wat hierdie winter verwag word nie. Dieselbesteding het met meer as 84-persent op ‘n jaargrondslag gedaal, terwyl energiebeskikbaarheid tot net bo 60-persent verbeter het. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê Suid-Afrika het nou 350 opeenvolgende dae sonder onderbrekings aangeteken, wat stelselbeskikbaarheid van ongeveer 98,9-persent weerspieël. Sy sê bykomende opwekkingsvermoë sal aanlyn gebring word om aan die vraag te voldoen.
# Koning Charles is op besoek aan Bermuda op sy eerste reis na ‘n Britse oorsese gebied as monarg. Die koning, wat nie deur koningin Camilla vergesel is nie, het Donderdagaand in die gebied se hoofstad, Hamilton, aangekom na ‘n vierdaagse staatsbesoek aan die VSA. Sy eerste dag in die gebied het die besigtiging van artefakte van die transatlantiese slawehandel, ‘n bootrit met die kuswag en ‘n koeksnygeleentheid by ‘n akwarium ingesluit.
# En rugby: Die Kampioenebeker-halfeindronde word hierdie naweek beslis. Leinster is vanmiddag om drie-uur die gashere vir RC Toulon op die Aviva-stadion. Die span is versterk deur terugkerende Ierse internasionale spelers, maar die geskiedkundige krag van die Franse moet nie onderskat word nie. Intussen kom die verdedigende kampioen Union Bordeaux-Bègles môremiddag teen ‘n geïnspireerde Bath Rugby in Frankryk te staan. Suid-Afrika se hoop is vroeër reeds in die uitklopfases verydel, met die Bulle, Stormers en Haaie wat uitgeskakel ondanks belowende vertonings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….