Nuus 11:00
BULLETIN 29 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê minister Malatsi moet in die Parlement rekenskap gee oor die konsep-beleid oor kunsmatige intelligensie
# MISA waarsku die tydelike brandstofverligtingmaatreëls is te beperk om prysskokke in Mei te verhoed
# En sokker: Sundowns se afrigter is bekommerd oor ‘n besige program wat kan lei tot beserings vir sy Bafana-spelers
# Die ANC sê die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, moet in die Parlement rekenskap gee oor die nasionale konsepbeleid oor kunsmatige intelligensie. Malatasi het die beleid onttrek nadat ontdek is ses bronne wat aangehaal word, bestaan nie. Interne ondersoeke het daarna bevestig dat aanhalings wat met kunsmatige intelligensie geskep is in die dokument voorkom. Woordvoerder Hlengiwe Hadebe sê die ANC beskou die voorval as een van die kommerwekkendste mislukkings in ministeriële oorsig en intellektuele nougesetheid in die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika se digitale bestuur.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê tydelike brandstofverligtingsmaatreëls sal nie genoeg wees om volgende maand ‘n skerp brandstofprysverhoging te verhoed nie. Die vakbond waarsku stygende wêreldwye oliepryse as gevolg van die konflik in Iran sal petrolpryse met ongeveer twee rand per liter opstoot, en dieselpryse met tot ses rand per liter. Phakamile Hlubi-Majola van MISA vra ‘n omvattende hersiening van brandstofpryse om huishoudings en werkers teen stygende lewenskoste te beskerm:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, verwelkom die hernude verbintenis tot spoorweg-afwenteling in die konsep Nasionale Spoormeesterplan wat die minister van vervoer, Barbara Creecy, vir openbare kommentaar vrygestel het. Die plan skets ‘n ambisieuse visie van twee-duisend-miljard-rand om Suid-Afrika se onderpresterende spoorwegsektor teen 2050 as die ruggraat van die logistieke en vervoerstelsel te herposisioneer. Hill-Lewis sê Kaapstad is gereed om die eerste metro te wees wat sy eie treine beheer:
Nuus uit die buiteland:
# Parlementslede in die Verenigde Koninkryk het ‘n mosie verwerp dat ʼn parlementêre ondersoek ingestel word om te bepaal of eerste minister Keir Starmer die Laerhuis mislei het oor Peter Mandelson se aanstelling as ambassadeur in Amerika. Die huis het met 335 teen 223 gestem teen ʼn mosie onder leiding van die Konserwatiewe Party. Mandelson het volgens berigte mark-sensitiewe inligting met die veroordeelde pedofiel, wyle Jeffrey Epstein, gedeel terwyl hy van 2008 tot 2010 ʼn minister was. Die Arbeidersparty beskryf die mosie as ʼn politieke foefie.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, is bekommerd sy span se besige skedule kan daartoe lei dat sleutelspelers van Bafana Bafana beserings kan opdoen voor die Wêreldbekertoernooi. Hy het voorheen die Premierliga gevra om plaaslike wedstryde uit te stel sodat Sundowns meer tyd kan kry om voor te berei vir volgende maand se Afrika-Kampioeneliga se eindstryde teen Royal Armed Forces van Marokko. Die span speel vier PSL-wedstryde voor hierdie kragmetings. Elf van Sundowns se spelers word as moontlike keuses vir die Wêreldbekergroep beskou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-36-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-586-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….