Nuus 11:00
BULLETIN 27 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Lugdiensvereniging eis dringende duidelikheid oor die stralerbrandstof-voorsieningskrisis
# Die MK-party veroordeel die instorting van bestuur in die Departement Kommunikasie
# En tennis: Sinner is steeds op koers na ‘n vyfde Meesters-een-duisend-titel in ‘n ry
# Die Lugdiensvereniging van Suider-Afrika vereis dringende deursigtigheid oor stralerbrandstofvoorraad in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Uitvoerende hoof Aaron Munetsi sê onsekerheid na volgende maand bedreig bedrywighede. Brandstofpryse het skerp gestyg as gevolg van wêreldwye ontwrigtings en dit het rederye genoop om vlugte te sny en reiskoste te verhoog. Munetsi sê hulle kan nie funksioneer sonder voorsieningsplanne nie en regerings, lughawens en verskaffers word versoek om gebeurlikheidsmaatreëls te deel en streekslugvervoer te beskerm.
# Die MK-party veroordeel wat hy noem die instorting van basiese bestuur in die Departement Kommunikasie en Digitale Tegnologieë na die terugtrekking van die konsep-beleid oor Nasionale Kunsmatige Intelligensie. Die party sê die dokument bevat fiktiewe bronne en beskryf dit as ‘n nasionale verleentheid en bewys van swak oorsig. Hy kritiseer minister Solly Malatsi se verduideliking dat K-I-geskepte aanhalings die skuld moet kry en sê toerekenbaarheid berus by amptenare. Die party vra volle deursigtigheid, gevolgs-bestuur en dringende optrede om geloofwaardigheid te herstel.
# Die polisie op die OR Tambo-internasionale Lughawe in Gauteng het ‘n 26-jarige Brasiliaanse burger in hegtenis geneem toe 8,7-miljoen-rand se kokaïen onderskep is. Woordvoerder Athlenda Mathe sê lede het intelligensie ontvang en die persoon se bagasie deursoek met landing, waarop die dwelm ontdek is. Dit is deel van voortgesette optrede teen internasionale dwelmhandel-netwerke. Mathe sê die verdagte sal na verwagting môre in Kemptonpark se Landdroshof verskyn:
# Die polisie in Mpumalanga vra inwoners om godsdienstige byeenkomste in riviere te vermy ná verskeie verdrinkings. Woordvoerder Jabu Ndubane het bevestig drie kinders het in die Wellasrivier in eMbalenhle verdrink, en ‘n bejaarde pastoor het in die Etiyeni-dam verdrink. Sy sê geregtelike doodsondersoeke is geopen. Ndubane waarsku gemeenskappe om veiligheid voorop te stel en gevaarlike waterbedrywighede te vermy, veral tydens godsdienstige byeenkomste:
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is steeds op koers om die eerste man te word om vyf Meesters-een-duisend-titels in ‘n ry te wen. Hy het deurgedring na die ronde van 64 in die Madridse Open met ‘n oorwinning in skoon stelle oor Elmer Moller van Denemarke in die Spaanse hoofstad. Die Italianer lyk ook onstuitbaar onderweg na ‘n loopbaan-Grand Slam deur die Franse Ope te wen in die afwesigheid van sy geswore teenstander, die Spanjaard Carlos Alcaraz, wat weens ‘n gewrigsbesering volgende maand se kleibaan-Grand-Slam-toernooi gaan misloop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….