Nuus 11:00
BULLETIN 22 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die ANC se steun het afgeneem op plaaslike owerheidsvlak
# Grenspolisie konfiskeer 2,1-miljoen-rand se onwettige sigarette
# ‘n Drie in die doodsnikke van die wedstryd red die Leeus van ‘n nederlaag teen die Haaie in ‘n Curriebeker-riller
# Die politieke ontleder, Ntsikelelo Breakfast, sê die ANC se keuse van burgemeesterskandidate hierdie naweek is belangrik aangesien die party ‘n beduidende afname in steun op plaaslike regeringsvlak ervaar. Die ANC stel hierdie naweek sy 2026 Plaaslike Regeringsverkiesingsmanifes in Diepsloot, Gauteng, bekend. Breakfast het aan die SABC gesê die party het gesukkel met dienslewering en bestuur. Hy het die ANC egter erkenning gegee vir die vorming van die plaaslike regeringsraamwerk:
# Grenspolisie en gesamentlike taktiese spanne het hul optrede teen sigaretsmokkelary verskerp en verskeie smokkel-besendings ter waarde van miljoene rande onderskep. ‘n Vier-en-veertigjarige buitelandse burger is by Beitbrug in hegtenis geneem nadat 460 bokse onwettige sigarette ter waarde van ongeveer 2,1-miljoen-rand na bewering in ‘n vragmotor versteek was. Soortgelyke beslagleggings ter waarde van ongeveer twee-miljoen-rand is by Groblersbrug en Mabeskraal aangemeld. Owerhede sê die operasies is deel van ‘n verskerpte aanslag op oorgrens-handel.
# Eskom het die finale betaling van die Stad Johannesburg en City Power ontvang, wat opgehoopte agterstallige elektrisiteitskuld van meer as 5,25-miljard-rand ten volle vereffen. Die nutsmaatskappy sê die stad se elektrisiteitsrekening vir Julie 2026, ter waarde van 1,86-miljard-rand, sal teen die vervaldatum van 31 Augustus betaal word. Eskom het gevolglik sy proses truggetrek, waarvolgens elektrisiteitsvoorsiening onderbreek sou word. Die woordvoerder van die nutsmaatskappy, Daphne Mokwena, sê die ooreenkoms ondersteun sy finansiële volhoubaarheid en betroubare elektrisiteitsvoorsiening:
# Die Studenteraad van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie vra ‘n ondersoek na die instelling se finansiële bestuur, na weke van betogings en die opskorting van akademiese programme. Die studenteraad-president, Liyabulela Gela, sê studente, veral dié uit benadeelde omgewings, dra die las van beweerde finansiële wanbestuur. Gela het aan die SABC gesê hulle verlang deursigtige finansiële assesserings en inklusiewe gesprekke met bestuur en die Departement van Hoër Onderwys:
# Die Leeus en die Haaie-15 het gister in ‘n opwindende Curriebeker-wedstryd by die Woodburn-stadion in Pietermaritzburg met 22-elk gelykop geëindig . Die Haaie het na die wenners gelyk nadat Meno Barnard se drie in die 76ste minuut hulle met 22-17 laat voorloop het. Die Leeus se heelagter, Gilermo Mentoe, het egter in die oomblikke ná die eindfluitjie ‘n drie gedruk om die telling gelyk te maak. Albei spanne het ‘n waardevolle punt behaal. Griekwas is steeds eerste op die punteleer, gevolg deur die Cheetahs en Pumas, met Boland Kavaliers en die Stormers-23 gesamentlik vierde.
# Vier toeriste word gesoek nadat hulle ‘n ongemagtig deur ‘n wildheining geklim en in die Krugerwildtuin gestap het. News24 berig die groep, insluitend ‘n tiener, het die park vanuit die Marlothpark-gebied binnegekom en langs die oewers van die Krokodilrivier geloop. ‘n Video van die voorval is op sosiale media versprei, en owerhede wil die groep nou identifiseer. Hulle kan boetes opgelê word vir onwettige betreding van die park. Amptenare sê dit is uiters gevaarlik om in die Krugerwildtuin te stap sonder behoorlike beskerming, en waarsku besoekers kan moontlik leeus, olifante en ander wilde diere teëkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….