Nuus 11:00
BULLETIN 26 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Edward Kieswetter skets leierskapseienskappe met sy uittrede by die Inkomstediens
# Hoop op vrede tussen Amerika en Iran vervaag met Donald Trump wat gesprekke skrap
# En sokker: Benni McCarthy word vereer tydens Blackburn se 150ste herdenkingsgala
# Die uittredende kommissaris van die Suid‑Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê doeltreffende leierskap vereis sterk karakter, bekwaamheid en ‘n erkende rekord. Kieswetter het in ‘n onderhoud met eNCA beklemtoon leiers moet die publiek dien, oor toepaslike vaardighede beskik en sigbare dienste lewer. Kieswetter sê leierskap vereis ‘n sterk werksetiek en integriteit, en waarsku teen ‘n politieke verbintenis in posaanstellings. Hy beklemtoon duidelike visie, uitvoering en die bou van institusionele kapasiteit om volhoubare dienslewering te verseker:
# Die Verkiesingskommissie het ‘n weeklange program van gesprekke met belanghebbers in KwaZulu-Natal afgesluit, wat daarop gemik was om demokrasie en kiesersdeelname voor die 2026-plaaslikeregeringsverkiesings te versterk. Tydens die besprekings het koning Misuzulu kaZwelithini steun vir vreedsame kiesersmobilisering belowe. Die OVK het kennis geneem van ‘n opname wat dalende vertroue en onttrekking aan die politiek toon. Die voorsitter van die Verkiesingskommissie, Mosotho Moepya, het bevestig dat voortgesette kieserregistrasieveldtogte, personeelopleiding en grensverskuiwings aan die gang is om geloofwaardige, inklusiewe verkiesings te verseker:
# Oproepe neem toe vir die verwydering en tugstappe teen ‘n lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer wat beskuldig word van beweerde mensehandel, verkragting en die seksuele uitbuiting van kinders. Die politikus wie se naam weerhou word totdat hy pleit, is in die George-landdroshof op borgtog van 15-duisend-rand vrygelaat. Daar word beweer dat hy ‘n minderjarige vir vyf jaar mishandel het. Die slagoffer se ma is ook in hegtenis geneem. Die politikus keer op 27 Mei terug na die hof.
# Hoop op ’n diplomatieke deurbraak in die Amerikaans‑Israelse oorlog met Iran het vervaag, met gesprekke om die twee maande lange konflik te beëindig steeds op ‘n dooiepunt en min bereidwilligheid deur Teheran en Washington om hul standpunte te versag. Die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, het Pakistan, oor die naweek met leë hande verlaat, en die Amerikaanse president Donald Trump het sy gesante se beplande besoek aan Islamabad gekanselleer. Die dooiepunt beteken die twee lande bly vasgevang in ‘n oorlog wat reeds energiepryse tot meerjarige hoogtepunte gedryf het, inflasie aangevuur en wêreldwye groeivooruitsigte beperk.
# Krieket: Deepti Sharma het Saterdagaand ‘n wenvertoning gelewer toe die Indiese Vrouespan hul eerste oorwinning in die reeks behaal het en Suid-Afrika se Vrouespan met 14 lopies geklop het tydens ‘n opwindende T20 Internasionale wedstryd op die Wanderers in Johannesburg. Indië het die loot vir die vierde keer in die reeks verloor en moes eerste boul maar het ‘n mededingende 185 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken. Deepti het egter 5 paaltjies laat kantel vir die verlies van slegs 19 lopies en die Proteas tot 171 vir nege beperk. Die laaste wedstryd in die reeks is môre op Willowmoorepark in Benoni.
En, sokker: Blackburn Rovers het die Suid-Afrikaanse sokkerlegende Benni McCarthy vereer met ‘n Rovers-erepet tydens hul 150ste herdenkingsgala-dinee op Ewoodpark. McCarthy is vereer vir sy bydrae tussen 2006 en 2010 toe hy 52 doele in 141 wedstryde aangeteken het. Hy is vereer saam met Alan Shearer, Craig Short, Charlie Mulgrew, Craig Conway, Roger Jones en Phil Jones. Die geleentheid het die klub se ryk geskiedenis en verskeie voormalige sterre gevier. Opbrengste sal die Blackburn Rovers se voormalige spelersvereniging ondersteun, wat erkenning bied aan oudspelers en hul blywende bydrae tot die klub se nalatenskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….