Nuus 11:00
BULLETIN 22 April vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê die voorbereiding vir die plaaslike verkiesing is voor skedule
# Die EU stem in om sanksies teen Iran uit te brei om dié in te sluit wat die Seestraat van Hormoes versper
# En sokker: ‘n Nuwe besending Wêreldbeker-kaartjies is beskikbaar nadat meer as vyf-miljoen reeds verkoop is
# Die Verkiesingskommissie sê hy loop gerieflik voor met tegniese voorbereidings vir die plaaslike regeringsverkiesing. Net meer as 3,1-miljard-rand is toegeken vir die 2026/27-boekjaar en die kommissie verwag om 4,7-miljard-rand te bestee, wat ‘n tekort van 1,6-miljard-rand laat. Dit sal gedeeltelik gedek word deur 1,1-miljard-rand wat van die vorige jaar oorgedra kan word, hangend goedkeuring van die Nasionale Tesourie. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo sê die verkiesing sal vry en regverdig wees:
# Build One South Africa verwelkom die Nasionale Vergadering se bekragtiging van die Wetsontwerpe op die Verdeling van Inkomste en van Spesiale Toewysings. Die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste gee ʼn uiteensetting van die verdeling van staatsfondse tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regering. Die Wetsontwerp op Spesiale Toewysings voorsien ʼn bykomende 13,5-miljard-rand vir dringende en onvoorsiene besteding. BOSA se woordvoerder, Nobuntu Hlazo-Webster, sê die land ondervind ʼn bekostigbaarheids-krisis:
# Volgens Statistiek Suid-Afrika se jongste armoede-verslag leef sowat 23-miljoen Suid-Afrikaners, of 37,9-persent van die bevolking, tans onder die laagste vlak van die broodlyn. Dis ʼn aansienlike daling teenoor die 46,7-persent in 2015. Armoedevlakke het tussen 2015 en 2023 in alle ouderdomskategorieë gedaal, met die grootste dalings in Limpopo, die Oos-Kaap en Mpumalanga. In Gauteng was daar ʼn toename van 26,3-persent in 2015 tot 26,5-persent in 2023. StatsSA sê beter ingryping is nodig om ongelykheid teen te werk.
Nuus uit die buiteland:
# Europese Unie-lande het ooreengekom om sanksies teen Iran uit te brei om dié in te sluit wat die Seestraat van Hormoes versper. Die voortgesette versperring van die deurgang wat normaalweg ‘n vyfde van die wêreld se olie- en vloeibare aardgas-voorraad hanteer, veroorsaak kommer in Europa, wat staatmaak op ingevoerde stralerbrandstof. Die Europese Kommissie se visepresident, Kaja Kallas, sê vryheid van beweging is ʼn hoeksteen van internasionale maritieme reg:
# Sokker: Die wêreld-beheerliggaam, FIFA, sê meer as vyf-miljoen kaartjies is reeds verkoop vir die Wêreldbekertoernooi wat op 11 Junie in Amerika, Kanada en Mexiko begin. ʼn Nuwe besending kaartjies vir al 104 wedstryde is van vandag te koop. FIFA sê afhangende van beskikbaarheid, sal bykomende kaartjies deurlopend beskikbaar gestel word tot die eindstryd op 19 Julie. Vanjaar se toernooi sal na verwagting die bywoningsrekord van 3,5-miljoen oortref wat in 1994 in Amerika opgestel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-26-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-770-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….