Nuus 11:00
BULLETIN 21 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP stel sy nasionale en provinsiale konferensies uit om op die plaaslike regeringsverkiesing te fokus
# Die Madlanga-kommissie verduidelik sy verhouding met die taakspan vir spesiale ondersoeke
# En rugby: ‘n Besering dwing ‘n verandering aan die Junior Bokke se groep vir die Onder 20-kampioenskap
# Die IVP het besluit om sy provinsiale en nasionale konferensies tot volgende jaar uit te stel ter wille van aaneenskakeling en bestendigheid in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing. Die termyn van die huidige leierskap het in Augustus 2024 verstryk, maar die party het besluit om nie nuwe leiers te verkies nie omdat hulle deel geword het van die regering van nasionale eenheid. Die IVP sê die verkiesing bied ‘n belangrike geleentheid om sy prestasies in munisipaliteite te konsolideer en uit te brei om sy posisie as ‘n geloofwaardige alternatief in plaaslike regering te versterk.
# Die Madlanga-kommissie het dit duidelik gestel dat die sogenaamde Madlanga-taakspan nie ‘n onderdeel van die kommissie is nie. Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola, het die taakspan geskep om verwysings op te volg in die kommissie se eerste tussentydse verslag, wat in Desember aan president Cyril Ramaphosa voorgelê is. Woordvoerder Jeremy Michaels sê hulle wil die verwarring regstel na onlangse nuusberigte dat die taakspan sekere mense in hegtenis geneem het:
# ActionSA vra ‘n onafhanklike en deursigtige ondersoek na bewerings deur die geskorste polisiekommissaris van Mpumalanga, Daphney Manamela. Sy het ernstige bewerings gemaak teen onder andere Masemola en die gewese minister van Polisie, Bheki Cele. Dit sluit omkopery, korrupsie en politieke inmenging in. ActionSA se woordvoerder, Thoko Mashiane, sê hierdie bewerings kan nie geïgnoreer word nie, en beslissende stappe moet gedoen word om integriteit en openbare vertroue in wetstoepassing te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal vir Humanitêre Sake en die Koördinering van Noodleniging, Tom Fletcher, het Amerika se besteding op die Iranse oorlog gekritiseer en sê die geld kan meer as 87-miljoen lewens red. Berigte dui daarop dat die Amerikaanse konflik met Iran Amerika daagliks sowat 32,7-miljard rand kos. Fletcher het in Chatham House in Londen gewaarsku oor die normalisering van geweldstaal, veral tydens konflik:
# Rugby: ‘n Besering het die Junior Springbokke gedwing om ‘n verandering aan te bring aan hul span vir die Onder 20-Rugbykampioenskap wat Maandag in Gqeberha in die Oos-Kaap begin. Die ervare haker Siphosethu Mnebelele het verlede week in Stellenbosch sy enkel beseer en word vervang deur Mahle Sithole. Hoofafrigter Kevin Foote sê dis jammer Mnebelele is beseer, maar dit gee Sithole kans om te wys waartoe hy in staat is. Suid-Afrika se veldtog skop af teen Argentinië, gevolg deur Australië op 3 Mei en Nieu-Seeland op 9 Mei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-902-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-778-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….