Nuus 11:00
BULLETIN 17 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema wag steeds op sy vonnis
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty verdedig dubbele lidmaatskap binne die drieparty-alliansie
# En rugby: Die Springbok-sewes mik na ‘n perfekte vertoning in Hongkong
# Die landdros in die saak teen die EFF-leier Julius Malema in KuGompo City, Twanet Olivier, sê vonnisoplegging is die ingewikkeldste fase van die verrigtinge. Sy het sleutelfaktore uiteengesit, insluitend dat die beskuldigde ‘n eerste oortreder is. Olivier beklemtoon howe moet afskrikmiddels, rehabilitering en maatskaplike beskerming balanseer, en vonnisse moet geregtigheid en genade weerspieël terwyl verseker word die misdaad word toepaslik gestraf:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty hou vol geen lid van die party sal enige politieke gevolge ly vir lidmaatskap van die ANC nie. Dit volg op ‘n bilaterale vergadering tussen die twee partye vroeër die week waar dubbele lidmaatskap bespreek is. Die SAKP gaan vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing onafhanklik van die ANC bestry. Die SAKP sê hy sien geen weerspreking tussen sy besluit oor die verkiesing en die behoud van die alliansie met sy gedeelde doelwitte nie.
# Die DA sê inwoners van Gauteng leef in vrees met geweldsmisdaad wat steeds toeneem. Volgens die party weerspieël onlangse skietvoorvalle en ander gewelddadige voorvalle in verskeie gebiede, insluitend Johannesburg, Westbury, Soweto en Boksburg, ‘n ineenstorting van wet en orde. Michael Sun van die DA sê gemeenskappe word geraak deur verbyry-skietvoorvalle, ontvoerings en georganiseerde misdaadbedrywighede. Sun beskuldig die provinsiale regering daarvan dat hulle nie behoorlike oplossings bied nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Withuis het berigte ontken dat Amerika versoek het om die skietstilstand van twee weke met Iran te verleng. Dit volg na die aankondiging dat Iranse amptenare en Pakistan se militêre hoof, Asim Munir, vandag samesprekings in Teheran gaan voer om boodskappe tussen Iran en Amerika te bespreek sedert onderhandelings doodgeloop het. Die Withuis se woordvoerder, Karoline Leavitt, sê produktiewe samesprekings gaan voort oor ‘n moontlike tweede ronde vredesonderhandlings:
# Rugby: Die Springbok-sewes se kaptein, Impi Visser, sê hulle mik steeds na die perfekte vertoning al het hulle vier van die ses toernooie in die wêreldreeks gewen. Suid-Afrika gaan die naweek in Hongkong sy groepswedstryde teen Uruguay, Spanje en Argentinië speel in die eerste van drie wêreldkampioenskaps-toernooie. Visser sê daar is aspekte wat moet verbeter, en dis van die uiterste belang om voortdurend op die hoogste vlak te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-989-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-826-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….