Nuus 11:00
BULLETIN 15 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa het volle vertroue in Roelf Meyer as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Amerika
# ‘n Politieke ontleder sê Hill-Lewis moet weer met uiteenlopende gemeenskappe skakel om steun vir die DA te versterk
# En rugby: Suid-Afrika A en Zimbabwe speel in Junie ‘n voorwedstryd vir die kragmeting tussen die Bokke en die Barbarians
# Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane en UDM-leier, Bantu Holomisa, het volle vertroue in Roelf Meyer as Suid-Afrika se nuwe ambassadeur in Amerika. Die 78-jarige voormalige Nasionale Party-politikus het ‘n sleutelrol gespeel in die onderhandelinge wat tot die einde van apartheid gelei het, en het ook gedien in die regering van nasionale eenheid onder Nelson Mandela. Holomisa het aan die SABC gesê Meyer se diplomatieke ervaring sal deurslaggewend wees:
# Die politieke ontleder Daniel Silke sê die nuwe DA-leier, Geordin Hill-Lewis, ondervind aansienlike uitdagings om die party aantreklik te maak vir ‘n breër groep kiesers. Kaapstad se burgemeester het ‘n oorweldigende meerderheid ontvang op die party se kongres om die amp oor te neem by John Steenhuisen, wat na byna sewe jaar bedank het. Silke sê Hill-Lewis sal betrokkenheid by uiteenlopende gemeenskappe moet lei om steun en vertroue te versterk:
# Die MK-party het die Regterlike Dienskommissie se besluit veroordeel om regter Aubrey Ledwaba aan te beveel as regterpresident van Gauteng. Hy was die enigste kandidaat vir ‘n onderhoud vir die pos, waarin hy waargeneem het nadat regter Dunstan Mlambo as adjunkhoofregter aangestel is. Die MK-party sê hulle het telkens ernstige en werklike kommer oor regter Ledwaba uitgespreek, insluitend oor bewerings van korrupsie, belangebotsings en gedrag wat nie ‘n regterlike beampte betaam nie.
Nuus uit die buiteland:
# Sowat 250 mense word vermis nadat ‘n boot met Rohingja-vlugtelinge en Bangladesjiese burgers in die Andaman-see, in die noord-oostelike Indiese Oseaan omgeslaan het. Die vaartuig het vanaf Bangladesj vertrek onderweg na Maleisië toe dit skynbaar gesink het weens sterk wind, rowwe see en oorlading. Die Bangladesjiese Kuswag het nege mense gered. Die Verenigde Nasies se hoëkommissariaat vir Vlugtelinge sê hierdie tragiese voorval weerspieël die ernstige gevolge van langdurige ontworteling en die afwesigheid van langdurige oplossings vir die Rohingja.
# Rugby: Suid-Afrika-A en Zimbabwe gaan op 20 Junie ‘n voorwedstryd speel vir die Springbokke se eerste wedstryd van die seisoen, teen die Barbarians in Gqeberha. Dit sal die A-span se eerste kragmeting wees sedert ‘n Europese toer van 2022, terwyl die buurland die eerste keer sedert 1991 gekwalifiseer het vir die Wêreldbekertoernooi wat volgende jaar in Australië plaasvind. Bok-afrigter Rassie Erasmus beskryf die wedstryd as ‘n ongelooflike geleentheid vir albei spanne en sê Bokke soos Sacha Feinberg-Mngomezulu, Aphelele Fassi en Grant Williams het voorheen vir die A-span gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-871-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-807-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….