Nuus 11:00
BULLETIN 14 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se energie-oorgang word versterk deur ‘n nuwe klimaatlening van Duitsland
# Nog ‘n minister word betrek by die Chinese voertuigskenkingskandaal
# En krieket: Tebogo Macheke word die eerste keer opgeroep vir die Protea-vrouespan vir die T20-reeks teen Indië
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Duitsland het sy steun vir Suid-Afrika versterk binne die raamwerk van die Billike Energie-oorgangsvennootskap. Duitsland het ingestem om Suid-Afrika ‘n nuwe konsessie-klimaatlening van 3,8-miljard-rand toe te staan, wat beleggings in die land se kragnetwerk en hernubare energievermoë sal ondersteun. Lamola sê die lening ondersteun die land se voortgesette nastrewing van meer ambisieuse klimaatsteikens:
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, word beskuldig dat sy luukse geskenkte Chinese sportnutsvoertuie aan haar familie gegee het sonder om dit as persoonlike geskenke te verklaar. Volgens Daily Maverick het Ramokgopa in 2023 na bewering drie BAIC X55’s aanvaar wat bedoel was as skenkings aan die ANC-Vroueliga. Die motors kos ongeveer 500-duisend-rand elk. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, word van dieselfde optrede beskuldig. Ramokgopa ontken die bewerings. Die ANC en die Vroueliga sê albei hulle dra geen kennis van die skenking nie.
# Die Stad Tshwane veroordeel gister se ontwrigting van ‘n openbare vergadering waar voortslepende waterprobleme in Hammanskraal bespreek sou word. Inwoners het verwag burgemeester Nasiphi Moya sou hulle toespreek, maar die burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Frans Boshielo, het opgedaag. Inwoners het geweier om na hom te luister en gesê slegs Moya moet met hulle praat oor mislukte dienslewering. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Hannes Coetzee, veroordeel die inwoners se gedrag:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, het Iran van ekonomiese terrorisme beskuldig omdat hy verkeer deur die Seestraat van Hormoes blokkeer. Die Amerikaanse blokkade van skepe wat Iranse hawens in die Golf gebruik, het gister in werking getree. Ongeveer 20-persent van die wêreldwye olie- en gasvoorraad het deur die seestraat beweeg voor die Midde-Oosterse konflik uitgebreek het. Vance het aan Fox News gesê die blokkade van Iranse hawens is geregverdig:
# Krieket: Die Titans se paaltjiewagter, Tebogo Macheke, is die eerste keer opgeroep na die Protea-vrouegroep vir die reeks van vyf T20s teen Indië. Sy vervang die beseerde Karabo Meso. Die veelsydige Titans-speler, Eliz-Mari Marx, sal die naatbouler Masabata Klaas vervang. Anneke Bosch behou haar plek nadat sy die beseerde Dané van Niekerk in die T20-reeks teen Nieu-Seeland vervang het. Die eerste wedstryd vind Vrydag in Durban plaas. Die reeks is die laaste voorbereiding vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat in Junie en Julie in Engeland plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-717-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-792-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….