Nuus 11:00
BULLETIN 11 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille sê die DA betwis leierskap openlik en billik
# ‘n Sekuriteitsdeskundige steun OPOD se Phala Phala-bevindings
# En Mpumalanga-boere vrees vir hul veiligheid nadat leeus opgemerk is
# Die uittredende DA Federale Raadsvoorsitter, Helen Zille, sê die party se kongres is ‘n bewys dat hulle leiers openlik en regverdig verkies, sonder korrupsie. Sy het vanoggend ‘n toespraak tydens die openingsdag van die party se verkiesingskongres in Midrand, Gauteng gelewer. Dit is die DA se eerste kongres sedert hy die regering van nasionale eenheid betree het. Zille sê die party moet rasgebaseerde politiek weerstaan, of dit nou van die verregse of die linkerkant af kom:
# Die sekuriteitsdeskundige, Willem Els sê die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat se aanbeveling vir tugstappe teen die hoof van die Presidensiële Beskermingseenheid, generaal-majoor Wally Rhoode, is geregverdig en ernstig. OPOD het die verslag oor president Cyril Ramaphosa se Limpopo Phala Phala-plaasdiefstal van ongeveer tien-miljoen-rand in 2020, gedeklassifiseer. Els beklemtoon Rhoode moes streng prosedures handhaaf, maar het sy gesag oorskry deur ‘n ongemagtigde ondersoek uit te voer, wat aanspreeklikheid en behoorlike polisiëringsstandaarde ondermyn het:
Die politieke ontleder Sipho Seepe sê intussen beweerde wangedrag deur lede van die Presidensiële Beskermingsdiens, wat verband hou met die Phala Phala-diefstal dui op doelbewuste verberging. Partye, insluitend die African Transformation Movement, het ‘n aanklag teen Ramaphosa versoek. Seepe sê versuim om die misdaad aan te meld en beweerde informele ondersoeke val buite amptelike mandaat, en aanspreeklikheid kan nie vermy word nie.
# Eskom sê sy Opwekkingsherstelplan verbeter steeds sy stelselbetroubaarheid, met ‘n jaar-tot-jaar styging in energiebeskikbaarheid en meer as tien maande sonder beurtkrag. Die nutsmaatskappy rapporteer 329 opeenvolgende dae van bestendige toevoer, verminderde onbeplande onderbrekings en laer dieselkoste. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena het bevestig dat Koeberg Eenheid 2 veilig afgeskakel is na ‘n turbine-uitskakeling. Sy sê ondersoeke duur voort, terwyl die netwerk bestendig bly met voldoende vermoë:
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Rory McIlroy, het gister beheer in die 2026 Augusta Meesters geneem met ‘n skouspelagtige 7-onder 65 vir ‘n voorsprong van ses houe na die 2de ronde. McIlroy se rekord van 12-onder na 36 putjies laat uitdagers Patrick Reed en Sam Burns agter op 6-onder. Terwyl Shane Lowry en Justin Rose steeds in tel is op 5-onder, het die wêreldnommer een, Scottie Scheffler, tot op baansyfer teruggesak. Charl Schwartzel is die enigste van die drie Suid-Afrikaners om die afsnypunt te haal. Aldrich Potgieter en Casey Jarvis kon nie daarin slaag om vir die laaste twee rondtes te kwalifiseer nie.
# En ten slotte: beesboere in die Daantjie-distrik naby Pienaar het die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap veroordeel vir sy stadige reaksie en gebrek aan vergoeding na twee leeus naby weidingsgebiede opgemerk is. Boere sê minstens twee koeie is gevang, met ander wat vermis word. Gemeenskapslede sê die waarnemings het paniek veroorsaak. Die agentskap sê soekspanne monitor die situasie en doen ‘n beroep op inwoners om waarnemings onmiddellik aan te meld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….