Nuus 11:00
BULLETIN 10 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola loof Pakistan vir sy onpartydige bemiddeling tussen Amerika en Iran
# Die SAKP se besluit oor die munisipale verkiesing is boaan die ANC-NUK se agenda op sy spesiale vergadering
# En sokker: Twee Suid-Afrikaanse skeidsregters is op die finale lys van die wedstrydbeamptes vir die Wêreldbeker
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het Pakistan geloof vir sy onpartydige bemiddeling in die oorlog tussen Amerika en Iran. Hy het gister telefonies met Pakistan se minister van Buitelandse Sake, Mohammad Ishaq Dar, gepraat oor planne vir ‘n blywende vrede in die Midde-Ooste. Amerika en Iran begin die naweek met vredesonderhandelings in Islamabad, Pakistan. Lamola vra alle partye om te goeder trou te onderhandel:
Die Internasionale Monetêre Fonds sê intussen die nadelige uitwerking wat die oorlog tot dusver gehad het, sal beteken dat wêreldwye groei vanjaar stadiger as verwag gaan wees. Baie lande beleef stygende petrol- en dieselpryse, en hoë vliegkaartjie-pryse omdat die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes reeds byna ses weke lank gesluit is. Die IMF se besturende direkteur, Kristalina Georgieva, sê die krisis is wêreldwyd, maar ook asimmetries:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee hou vandag ʼn spesiale vergadering in Gauteng waar hulle sal fokus op die veranderende verhouding tussen die party en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Dit volg op die SAKP se besluit om onafhanklik aan die komende munisipale verkiesing deel te neem. Hulle sal ook bespreek of SAKP-lede dubbele lidmaatskap mag hê. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het hom skerp uitgespreek teen die SAKP se besluit en beskryf dit as wispelturig en gevaarlik vir die Nasionale Demokratiese Revolusie.
# Die vakbondfederasie Cosatu vra verhoogde regeringsbefondsing vir getuiebeskermingsprogramme omdat huidige hulpbronne nie voldoende beskerming bied vir verklikkers wat korrupsie blootlê nie. Die federasie verwelkom die Wetsontwerp op Beskermde Bekendmaking wat vir openbare kommentaar gepubliseer is as ‘n positiewe stap in die versterking van verklikker-beskerming. Woordvoerder Matthew Parks sê sonder voldoende befondsing kan getuiebeskermingstelsels sukkel om meer mense aan te moedig om na vore te tree:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Abongile Tom is aangewys as een van die wedstrydbeamptes vir die komende Wêreldbekertoernooi in Amerika, Mexiko en Kanada. Nog ‘n plaaslike blaser, Zakhele Siwela, sal as assistent-skeidsregter optree. Altesaam 52 skeidsregters, 88 assistent-skeidsregters en 30 video-wedstrydbeamptes is gekies. Dit sal Tom se eerste Wêreldbekertoernooi wees en Siwela se derde nadat hy in 2018 en 2022 ook langs die veld was. Vanjaar se toernooi is die grootste ooit, met 48 spanne wat 104 wedstryde sal speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-790-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-748-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….