Nuus 11:00
BULLETIN 2 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister in die Presidensie sê die wetsontwerp oor die Nasionale Gesondheidsversekering kan voor die verkiesing as wet bekragtig word
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se korrupsie- en groei-afgradering is as gevolg van pro-armoede beleide
# En, ‘n gasontploffing in Kenia eis minstens drie lewens en beseer 200 mense
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê president Cyril Ramaphosa kan die Nasionale Gesondheidsversekerings-wetsontwerp voor vanjaar se algemene verkiesing onderteken. Beide huise van die Parlement het die omstrede wetsontwerp aanvaar en die president moet dit nou onderteken. Die doel van die wetsontwerp is eenvormige openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika. Ntshavheni sê ná die lesse van die Covid 19-pandemie moet die NGV-wetsontwerp dringend onderteken word om tydens die sewende administrasie volledig in werking te tree.
# Die Instituut van Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika se dalende posisie op die korrupsie-aanwyser en die Internasionale Monetêre Fonds se afwaartse aanpassing van die ekonomiese groeivooruitsigte, is kommerwekkende aanduidings van die land se huidige ekonomiese en beleidstrajek. Die land het op die korrupsie-aanwyser tot 41 gesak terwyl die IMF die land se groeivooruitsigte vir vanjaar tot net een-persent halveer het. Hermann Pretorius van die instituut sê Suid-Afrika is wat beleid betref in ‘n doodspiraal vasgevang wat teen groei gekant is en armoede voorstaan:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement vra beter wetstoepassingin en om Coronationville in Johannesburg. Dit volg na voortgesette misdaadvoorvalle by die Rahima Moosa Moeder- en Kind-hospitaal. Twee voorvalle het sedert Desember verlede jaar daar plaasgevind. In die een is ʼn verpleegkundige deur gewapende mense gekaap. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die voortdurende misdaad raak pasiënte wat toegang wil kry tot mediese dienste by die hospitaal:
# Minstens drie mense is dood en meer as 200 beseer in ‘n gasontploffing wat vroeg vanoggend in ‘n fabriek in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, voorgekom het. Die vermoede bestaan dat ‘n vragmotor vol gasbottels ontplof het, waarna ‘n brand uitgebreek het wat baie vinnig versprei het. Die brand het skynbaar ook na verskeie aanliggende woonstelgeboue versprei. ‘n Regeringswoordvoerder, Isaac Maigua Mwaura, sê ‘n bevelsentrum is opgestel om die reddingsoperasie te koördineer. Kommer bestaan dat die ongevalle verder kan styg.
# Rugby: Die losskakel Finn Russell voer Skotland aan in môre se Sesnasieswedstryd teen Wallis in die Millennium-stadion in Cardiff. Kyle Rowe trek die eerste keer die nommer 15-trui oor die kop in die plek van die beseerde Blair Kinghorn. Die 34-jarige slot, Richie Gray, speel in sy elfde kampioenskap, terwyl die gebore Suid-Afrikaner, Kyle Steyn, op vleuel uitdraf. Frankryk en die verdedigende kampioen, Ierland, skop die kampioenskap vanaand in Marseille af, terwyl Italië môremiddag vir Engeland in Rome verwelkom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-214-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-54-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….