Nuus 11:00
BULLETIN 1 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sê die brandstofprys-vasstelling gaan oor die medium termyn hersien word
# Die EFF vra ‘n parlementêre debat oor die bek-en-klouseer-uitbreking
# En krieket: Nieu-Seeland se vrouespan haal ‘n rekord-teiken om Suid-Afrika in die tweede eendagwedstryd te klop
# Die minister van Minerale en Petroleum-hulpbronne, Gwede Mantashe, sê hulle is besig om die brandstofprys-vasstelling oor die medium termyn te hersien. Die toenemende konflik in die Midde-Ooste het gevare in die wêreld se energiemarkte vergroot en plaas groot druk op plaaslike brandstofpryse. Die regering het die brandstofheffing tydelik met drie-rand per liter verlaag. Mantashe het aan die SABC gesê die regering probeer ekonomiese volhoubaarheid met die beskerming van verbruikers balanseer:
Intussen sê AfriForum openbare druk het ‘n sleutelrol gespeel om verligting te verseker vir verbruikers wat steier onder stygende brandstofpryse. Die organisasie sê volgehoue bepleitings deur die publiek en burgerlike groepe het die regering oortuig om op te tree en huishoudings teen hoër vervoer- en lewenskoste te beskerm. Ernst van Zyl van AfriForum bepleit ‘n wyer bespreking oor die permanente verlaging van brandstofbelasting:
# Die EFF het die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, gevra vir ‘n dringende debat oor die uitbreking van bek-en-klouseer en die staat se versuim om genoeg entstowwe te voorsien. Dit het tot groot vee- en finansiële verliese gelei. Daar is tans een-duisend-223 gevalle landwyd, die meeste hiervan in die Vrystaat en Gauteng. Die EFF sê hy het ʼn groot aantal voorleggings van boere ontvang wat ʼn prentjie skilder van verwoeste voortbestaan, gebrek aan staatsondersteuning en kleinskaalse en opkomende boere wat agtergelaat word.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies sê die situasie in Libanon het gevaarlik versleg weens toenemende konflik tussen Israel en die Irans-gesteunde militantegroep Hisbolla. Israel het sy veldtog teen Hisbolla verskerp nadat die groep verlede maand vuurpyle op hom afgevuur het te midde van die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran. Die VN se vredeshoof, Jean-Pierre Lacroix, sê meer as ʼn duisend mense is in Libanon dood en sowat ʼn miljoen ontheem:
# Krieket: Nieu-Seeland se vrouespan het ʼn wêreldrekord-lopieteiken gehaal om Suid-Afrika met twee paaltjies te klop in die tweede van drie eendagwedstryde in Wellington. Die Proteas het 346 vir ses aangeteken met Anneke Bosch wat 91 van 90 balle aangeteken het. Die gasvroue se kaptein, Amelia Kerr, het daarna ʼn onoorwonne 179 van 139 balle gemoker om die White Ferns na oorwinning te lei met twee balle oor. Dis die hoogste suksesvolle lopie-jaagtog in die geskiedenis van vroue-eendagkrieket. Die beslissende wedstryd vind Saterdag plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-143-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-717-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….