Nuus 11:00
BULLETIN 31 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê die beleggingskonferensie sal die gevolge van die land se hervormingsagenda vertoon
# Business Leadership South Africa sê die NVG moet behoorlike hulpbronne kry om sake te bou en te vervolg
# En rugby: Die Springbok-afrigter sê die Nasieskampioenskapstoetse teen Engeland, Skotland en Wallis gaan uitdagend wees
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die sesde Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie sal ‘n nasionale landskap toon wat gekenmerk word deur strukturele hernuwing en nuwe ekonomiese bane. Dit vind vandag in Johannesburg plaas. Die regering wil teen 2028 twee-duisend-miljard-rand se nuwe beleggings bekom. Tau sê Suid-Afrika se nasionale strategiese landskap, gegrond op die Groei- en Insluitingstrategie en die voortgesette hervormingsagenda, is ʼn aanloklike raamwerk vir beleggers:
# Business Leadership South Africa sê die Nasionale Vervolgingsgesag se hervorming moet voortgaan met diepgaande veranderinge om sy onafhanklikheid te beskerm. Die organisasie ondersteun die NVG met duidelike riglyne wat sy onafhanklikheid beskerm, en is betrokke by ʼn fonds wat top-vlak forensiese vaardighede uit die privaat sektor bied om sake te help bou. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die NVG moet finansieel en operasioneel onafhanklik wees van die Departement van Justisie. Sy sê die NVG maak staat op ʼn werkende en doeltreffende polisiemag om sake te ondersoek, te bou en misdadigers aan te keer.
# Die Gautengse regering sê die DA se bewerings dat premier Panyaza Lesufi nie pogings gekoördineer het om die bek-en-klouseer-uitbreking te bestry nie, is misleidend en ongegrond. Die party kritiseer die provinsie se toekenning van 63-miljoen-rand en sê dis nie genoeg om boere en die landbou-ekonomie te beskerm nie. Woordvoerder Elijah Mhlanga sê pogings gaan voort om die uitbreking te bekamp met die ondersteuning van die nasionale regering:
Nuus uit die buiteland:
# Die Withuis sê onderhandelinge met Iran vorder en president Donald Trump wil voor Maandag ʼn ooreenkoms met Teheran bereik. Dis die sperdatum wat Trump verlede week vasgestel het nadat hy ʼn vroeëre sperdatum uitgestel het waarop Iran die Seestraat van Hormoes moes open. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, het Trump se dreigement verdedig om Iran se energie-aanlegte en olieboorgate te vernietig as hy nie die seestraat oopstel nie:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die eerste Nasieskampioenskapstoetse gaan ‘n opwindende uitdaging wees. Die Bokke skop hul veldtog op 4 Julie in Johannesburg teen Engeland af, speel ‘n week later in Pretoria teen Skotland en op 18 Julie in Durban teen Wallis. Erasmus sê al drie spanne sal inspirasie put uit die onlangse uiters mededingende Sesnasiesreeks, terwyl die Bokke se seisoen nou eers begin. Hy sê die Bokke sal uit die staanspoor voluit moet speel om so mededingend moontlik te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-426-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-560-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….