Nuus 11:00
BULLETIN 30 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê dit skep onsekerheid in die sakesektor wanneer die polisie onder verdenking is
# Die nasionale polisiekommissaris sê hy sal saamwerk in die Medicare 24-tenderondersoek
# En rugby: Die Springbokvroue-sewes eindig vyfde in Sao Paulo
# Business Leadership South Africa sê korrupsie op die hoogste polisie-vlak, die minister op verpligte verlof en die nasionale polisiekommissaris wat aangekla word, ondermyn die oppergesag van die reg waarop sakeondernemings staatmaak om te funksioneer en te belê. Minister Senzo Mchunu is in Julie verlede jaar op spesiale verlof geplaas oor bewerings van korrupsie en politieke inmenging. Nasionale kommissaris Fannie Masemola word betrek by ‘n omstrede Medicare 24-tender van 360-miljoen-rand. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die polisie behoort die laaste verdedigingslinie en onkreukbaar te wees.
Masemola sê intussen hy sal sy volle samewerking gee met die ondersoek na tenderkorrupsie waarby Medicare 24 betrek word. Hy is gedagvaar om op 21 April in die hof te verskyn oor die tender aan Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappy. Twaalf senior polisiebeamptes wat ook betrek word, het verlede week in die hof verskyn op aanklag van korrupsie, bedrog en geldwassery. Masemola sê hulle gaan nie bespiegel oor wat hieragter skuil nie:
# Die polisie in samewerking met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het vyf vermeende dwelmmuile op die OR Tambo-lughawe in Gauteng vasgetrek. Voorlopige berigte dui daarop dat die vroue op pad was na China via Dubai. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die vyf is aangekeer met dwelms ter waarde van sowat vyf-miljoen-rand wat aan hul liggame versteek was:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, veroordeel die dood van ʼn Indonesiese vredebewaker wat in die VN se tussentydse mag in Libanon gedien het. Dit het gebeur te midde van vyandelikhede tussen Israel en Hisbolla. Die vredebewaker is gister dood toe ʼn projektiel by ʼn UNIFIL-posisie in die suide ontplof het. Een persoon is ernstig beseer. Guterres vra alle partye om hul verpligtinge ingevolge internasionale wette na te kom en VN-personeel en -eiendom se veiligheid te verseker.
# Rugby: Die Springbokvroue het vyfde geëindig in die wêreldsewestoernooi in Sao Paolo, Brasilië. Suid-Afrika het Saterdag 19-5 teen Spanje verloor en daarna 14-5 teen Kenia, maar toe die gasvroue 26-12 geklop. ‘n Uitgedunde Bokspan met vyf beseerde spelers het gister 19-5 teen Argentinië verloor en hul laaste wedstryd teen China 14-10 gewen. Die Bok-vroue het reeds gekwalifiseer vir die Sewes-wêreldkampioenskap wat volgende maand in Hongkong begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-316-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-530-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….