Nuus 11:00
BULLETIN 28 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die MK-party se Presidensie bedank
# Die styging in brandstofpryse bedreig die doeltreffendheid van die NSRI
# En Rugby: Die Haaie behaal ‘n noue oorwinning oor Cardiff in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting
# ‘n Senior MK-partylid, Magasela Mzobe, het bedank as die party se hoof van die presidensie. Terwyl Mzobe amptelik gesê het hy wil op sy sokkerklub, Newcastle All Stars fokus, dui interne verslae daarop dat sy vertrek gekoppel kan wees aan ‘n rusie met die MK-partyleier Jacob Zuma, of ‘n suiwering van die senior geledere. Hy het in Junie 2024 by die MK-party aangesluit na hy die EFF verlaat het. Mzobe is ‘n voormalige ANC-jeugligaleier en het onder Zuma-leierskap gedien toe hy ANC-president was.
# Die Mededingingskommissie van Suid-Afrika sê die oorlog in die Midde-Ooste het veroorsaak dat wêreldwye oliepryse tot meer as 100-dollar per vat gestyg het. ‘n Woordvoerder Siyabulela Makunga sê daar is ‘n duidelike risiko dat gewetenlose ondernemings die skielike styging en onsekerheid in brandstofpryse sal uitbuit deur pryse buitensporig te verhoog, bo dit wat deur die brandstofkostestygings geregverdig word:
Die Nasionale Seereddingsinstituut sê intussen stygende brandstofpryse wêreldwyd plaas druk op hul reddingsaktiwiteite. Die organisasie sê noodoptrede sal voortduur, maar waarsku dat hoër brandstofkoste hulle vermoë sal belemmer om lewensreddingsdienste te handhaaf. Hulle verminder brandstofverbruik en prioritiseer kritieke operasies om die uitwerking te bestuur. Andrew Ingram van die instituut sê die verhogings, aangevuur deur spanning in die Midde-Ooste, sal bedryfskoste verhoog:
# Die Energieraad van Suid-Afrika ondersteun die skep van ‘n onafhanklike staatsbeheerde transmissiestelseloperateur maar dring aan op ‘n gefaseerde oorgang om risiko’s in Eskom se ontbondeling te verminder. Die raad het president Cyril Ramaphosa se taakspan verwelkom om ‘n padkaart te ontwikkel. Hy vra ook vir ‘n onafhanklike markoperateur, regverdige toegang tot die netwerk en finansiële bestendigheid by Eskom. Kenners waarsku dat vertragings en ‘n gebrek aan duidelike tydlyne belegging, mededinging en energiesekerheid kan ondermyn.
# Rugby: Die Haaie hoop steeds om deel te wees van die top-agt uitspeelwedstryde met hulle oorwinning van 21-15 teen Cardiff in hul Verenigde Rugbykampioenskap-ontmoeting gisteraand in Durban. Ondanks baie meer balbesit, het die gashere gesukkel met Durban se hoë humiditeit. Phepsi Buthelezi het twee keer vir die tuisspan gedruk, met Yaw Penxe wat ‘n derde drie bygevoeg het. In ander wedstryde vandag pak die Bulle vir Munster om twee-uur op Loftus, die Leeus speel om half-vyf teen die Dragons in Johannesburg en die Stormers draf om sewe-uur uit teen Edinburgh in Kaapstad.
# En ten slotte: Die Onderwysdepartement van die Wes-Kaap het gemeenskappe aangemoedig om skole te help beskerm met skole wat gister vir die Paasvakansie gesluit het. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê hoewel sekuriteit by vier-honderd-43 skole ontplooi is, bly openbare waaksaamheid noodsaaklik. Inwoners word aangemoedig om verdagte aktiwiteite by die polisie aan te meld. Hy waarsku vandalisme en diefstal ontneem die onderwystelsel van hulpbronne en beklemtoon die beskerming van skole is ‘n gedeelde verantwoordelikheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….