Nuus 11:00
BULLETIN 19 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag erken daar is gapings tussen die Spesiale Ondersoek-eenheid se verwysings en vervolgings
# Die GOOD-party vra Mark Burke van die DA moet verwyder word van die Parlement se finansiële komitees
# En rugby: Die All Blacks se verdedigingsafrigter sê hulle kan nie deur die Bokke se voorspelers oorweldig word nie
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die gaping tussen verwysings en vervolgings moet verstaan word teen die agtergrond van korrupsiesake se ingewikkeldheid. Die Spesiale Ondersoekeenheid het sedert 2011 vyf-duisend-944 misdaadsake na die NVG verwys, maar slegs tien-persent het tot volledige dossiere en vervolgings gelei. In Gauteng was daar sedert 2011 twee-duisend-655 verwysings wat tot 206 dossiere gelei het. Die NVG sê ondersoeke begin dikwels jare ná die vermeende wangedrag, wat dit moeilik maak om getuies op te spoor en dokumentêre en elektroniese bewyse te bekom.
# Die GOOD-party sê die DA-parlementslid Mark Burke is nie geskik om in die Parlement se finansiële toesigkomitees te dien terwyl sy maatskappy aan ‘n regulatoriese ondersoek onderworpe is nie. Burke se maatskappy, Kastelo, word na bewering gekoppel aan die verskuiwing van miljarde-rand na die buiteland. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, vra Burke moet verwyder word van komitees wat toesig hou oor die Nasionale Tesourie, die Suid-Afrikaanse Reserwebank en openbare finansies:
# ActionSA sê die ANC se bewerings teen Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, is ‘n politieke veldtog om die party se beeld te skaad voor die plaaslike regeringsverkiesing. Die ANC beskuldig haar van korrupsie en wanbestuur van munisipale dienste, onder meer weens ‘n kontrakteur se werk aan haar privaat woning. Moya ontken dit. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê daar is geen bewyse om die bewerings te staaf nie:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het die instelling van ʼn 50-persent tarief op ʼn wye reeks Kanadese produkte met drie dae uitgestel. Die tariewe op produkte soos suiwel, alkohol en meubels sou vandag van krag word. Trump sê op Truth Social Amerika en Kanada het ʼn ooreenkoms bereik, onderhewig aan die afhandeling van dokumente. Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê hulle het aansienlike vordering gemaak met ʼn handelsooreenkoms, maar nog werk is nodig.
# Rugby: Die All Blacks se verdedigingsafrigter, Tana Umaga, sê hulle kan nie bekostig om oorweldig te word deur die Springbokke se reuse-pak voorspelers en van hul agterlyn-bedreiging vergeet nie. Die eerste toets vind Saterdag op Ellispark plaas. Umaga is nou vir ses wedstryde in die rol en staan gemiddeld 23 punte per wedstryd af. Hy sê hulle weet wat om van die Bokke te verwag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-272-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-350-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….