Nuus 11:00
BULLETIN 27 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Frankryk ontken Amerika het druk op hom geplaas om Suid-Afrika se G7-uitnodiging terug te trek
# Die waarnemende minister van Polisie Firoz Cachalia bied opsies aan president Ramaphosa oor die Masemola-saak
# En tennis: Aryna Sabalenka en Coco Gauff spook sake uit in die Miami Ope-eindstryd
# Die Franse minister van Buitelandse Sake, Jean-Noël Barrot, ontken dat Suid-Afrika se uitnodiging na die G7-beraad in Junie weens druk van Amerika teruggetrek is. Die Presidensie het aanvanklik beweer hy is weens Washington se dreigemente nie meer uitgenooi nie, maar het later teruggekrabbel en voortgesette diplomatieke onderhandeling beklemtoon. Barrot sê hulle het besluit om die G7 te vereenvoudig en eerder Kenia genooi om Frankryk te help met voorbereiding vir sy Afrika-beraad wat in Mei in Nairobi plaasvind. Hy sê Suid-Afrika bly ‘n belangrike vennoot in alle groot globale kwessies.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê hy het opdrag gekry om president Cyril Ramaphosa opsies te bied oor die jongste verwikkelinge waarby die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, betrek word. Hy is gedagvaar om in April in die hof te verskyn in verband met sy beweerde bande met die tender van 360-miljoen-rand-tender wat aan Vusimuzi “Cat” Matlala, se Medicare24-maatskappy toegeken is. Cachalia het aan die SABC gesê enige optrede van Ramaphosa moet die polisiediens versterk:
# Die burgemeester van Tshwane, Nasiphi Moya, sê haar uitvoerende raad bejeën die bewerings oor finansiële bestuur, aanspreeklikheid en toesig met erns. Dit volg nadat die raad ‘n verslag aanvaar het oor tugstappe teen die hoof van finansies, Gareth Mnisi – insluitend stappe om hom voorlopig te skors. Mnisi is in die Madlanga-kommissie by die skynbare manipulering en knoeiery met tenders betrek. Die woordvoerder van die burgemeester, Samkelo Mgobozi, sê die proses beteken nie Mnisi is skuldig bevind nie.
# Die Verenigde Arabiese Emirate sê hy sal betrokke raak by ʼn multinasionale maritieme taakspan om die Straat van Hormoes te open. Die smal seestraat is byna vier weke al vir alle praktiese doeleindes gesluit weens die konflik in die Midde-Ooste. Sowat 20-persent van die wêreld se olie, aardgas en kunsmis word deur hierdie seestraat vervoer. Volgens die Financial Times werk die VAE aan ʼn resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad saam met Bahrein om enige toekomstige taakmag van ʼn mandaat te voorsien.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, kom môre in die Miami Ope se eindstryd teen Coco Gauff te staan. Sabalenka, ʼn viermalige Grand Slam-kampioen, het Elena Rybakina van Kazakstan geklop. Sy kort net een oorwinning om met die gesogte Sonskyn-dubbel te spog ná haar sege vroeër die maand by Indian Wells. Gauff het die Tsjeg Karolina Muchova afgeransel om haar eerste Miami Ope-eindstryd te haal. Sabalenka vertel wat ondersteuners van die eindstryd teen Gauff kan verwag:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-630-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-451-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….