Nuus 11:00
BULLETIN 22 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa moedig alle Suid-Afrikaners aan om aan openbare verhore deel te neem
# Premier Winde sê die Wes-Kaapse bek-en-klouseer-reaksie vorder goed namate meer entstofdosisse aankom
# En, ’n regte buidelrot word tussen sagte speelgoeddiere in Australiese lughawe-geskenkwinkel gevind
# President Cyril Ramaphosa moedig alle Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan openbare verhore en sodoende by te dra om wette te maak en besluite oor munisipaliteite se prioriteite te neem. Hy sê Suid-Afrikaners moet Artikel 9-instellings gebruik om leiers aanspreeklik te hou en hul regte uit te oefen. Ramaphosa sê landsburgers moet deur die loop van die jaar deel wees van die proses om die land se toekoms deur nasionale dialoog te vorm:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die bevel deur die Hooggeregshof in Bloemfontein wat toestemming gee vir die finale verbeurdverklaring van ses luukse eiendomme en ‘n Mercedes-Benz G63 AMG van ongeveer 32-miljoen-rand in Gauteng, die Vrystaat en Noordwes. Die NVG-woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die eiendomme en voertuig is gebruik in oortredings van geldwassery wat verband hou met die onregmatige Vrystaatse asbesdaktender van 230-miljoen-rand:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê Suid-Afrika se metro-munisipaliteite is onder aansienlike druk as gevolg van politieke onbestendigheid, swak besluitneming, dalende inkomste en lae invorderingskoerse. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê hierdie uitdagings word verder vererger deur organisatoriese ondoeltreffendheid, verouderende infrastruktuur en vinnige verstedeliking, wat die vraag na behuising, water, elektrisiteit, sanitasie en afvalverwyderingsdienste verhoog:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsie se gekoördineerde bek-en-klouseer-reaksieplan is verder versterk met die aankoms van nog agt-duisend entstofdosisse in die provinsie. Hy sê dit sal die 100-duisend dosisse wat die provinsie verlede week ontvang het, aanvul, wat die totale getal wat tot duser ontvang is op 170-duisend-400 dosisse te staan bring. Winde sê meer as 121-duisend inentingsdosisse is by 438 inentingsterreine toegedien, met die ondersteuning van 29 privaat veeartse:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner is deur na die Miami Ope se derde ronde. Sinner, die heersende Wimbledon-kampioen, het nommer 76 in die wêreld Damir Dzumhur van Bosnië en Herzegowina uitgeskakel. Hy kom volgende te staan teen nommer 31, die Fransman Corentin Moutet, wat met die Tsjeg, Tomas Machac afgereken het. Sinner, het sy 25ste loopbaan-ATP-titel gebuit toe hy verlede naweek Daniil Medvedev in die Indian Wells-eindwedstryd geklop het. Hy hoop om die eerste man sedert Roger Federer in 2017 te word, om die “Sunshine Double” op te raap deur Miami en Indian Wells te wen.
# En ten slotte, ‘n passasier in ‘n winkel by die Hobart-lughawe in Tasmanië het ‘n lewendige Australiese borselstertbuidelrot gesien wat tussen die uitgestalde speelgoeddiere uitloer. Die buidelrot het homself tuisgemaak in die kangaroe-afdeling langs ‘n Tasmaniese duiwel. Bo die buidelrot was beertjies, buideldiere met konynagtige lang ore, en dingo’s, Australië se inheemse hond. Die indringer se bewegende oë het sy teenwoordigheid verraai en nadat hy aan die lughawebestuur gerapporteer is, het die diertjie agterdogtig geword te midde van al die aandag en spore gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….