Nuus 11:00
BULLETIN 31 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika se energie- en logistieke probleme wek kommer
# Cosatu veroordeel die geheimhouding rondom die KPMG- en VBS-bankskikking
# En, die Verenigde Nasies sê daar is geen plaasvervanger vir die Hulp- en Werke-agentskap se lewensreddende werk in Gaza nie
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika word gekniehalter deur voortslepende kragonderbrekings en logistieke probleme wat die gevolg is van jare lange onvoldoende belegging en swak bestuur. Die fonds het die land se vooruitsig vir vanjaar tot net een-persent verlaag. Die IMF se hoofekonoom, Pierre-Olivier Gourinchas, sê dis noodsaaklik dat kragaanlegte weer aanlyn kom, dat meer hernubare energie by die netwerk gevoeg word en dat ‘n omgewing geskep word wat privaat beleggers lok. Hy sê verhoogde staatskuldvlakke is ook ʼn groot bron van kommer:
# Die vakbondfederasie Cosatu veroordeel ten sterkste die geheimhouding rondom die skikking buite die hof tussen die finansiële instelling KPMG en die likwidateurs van VBS Mutual Bank. Die federasie is bekommerd dat die vertroulike aard van die skikking werkers en gemeenskappe die deursigtigheid ontsê wat nodig is om die volle omvang van die finansiële wanbestuur en korrupsie by VBS te verstaan. Matthew Parks van Cosatu eis die onmiddellike openbaarmaking van die skikkingsbesonderhede om aanspreeklikheid te verseker en openbare vertroue te herstel. Parks vra verpligte ouditeur-rotasie om moontlike korrupsie te voorkom.
# Die polisie het vroeg vanoggend drie vermeende lede van ʼn berugte bende in die Lungelani-plakkerskamp in La Mercy, KwaZulu-Natal, doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Jay Naicker, sê hulle het inligting ontvang dat ʼn groep wat betrokke is by verskeie ernstige misdade in die plakkerskamp skuil. Die misdade sluit moorde in wat in die Inanda-gebied gepleeg is. Naicker sê ʼn span wat uit verskeie polisiedissiplines bestaan, onder andere lede van die Valke, het toegeslaan:
# Die Verenigde Nasies se humanitêre en heropbou-koördineerder vir Gaza, Sigrid Kaag, sê geen organisasie kan die groot vermoë en werk van die Verenigde Nasies se hulp- en werke-agentskap, UNRWA, in Gaza vervang nie. Die agentskap se bedrywighede is in gevaar nadat talle skenkerlande hulle befondsing opgeskort het. Dit volg na bewerings dat verskeie van sy personeellede betrokke was by Hamas se terreuraanval op Israel op 7 Oktober verlede jaar. Kaag sê daar moet aan mense in Gaza se humanitêre behoeftes voldoen word:
# Tennis: Die Integriteitsagentskap vir Internasionale Tennis gaan appelleer teen die besluit van ʼn onafhanklike tribunaal om die Britse speler, Tara Moore, vry te spreek nadat sy positief getoets het vir opkikkers. Die land se voorste dubbelspeler is in Mei 2022 voorlopig geskors nadat sy tydens ʼn toernooi in Colombië positief getoets het vir twee middels. Die tribunaal het haar verduideliking aanvaar dat besmette vleis die oorsaak was, en bevind sy was nie skuldig of nalatig nie. Die agentskap se appèlaansoek sal later voor die Hof vir Arbitrasie in Sport dien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-971-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-36-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-12-sent per vat.