Nuus 11:00
BULLETIN 17 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom bepleit ekonomiese voorbereiding te midde van die styging in die olieprys
# Afganistan beskuldig Pakistan dat hy ’n hospitaal aanval en meer as 400 sterftes veroorsaak
# En krieket: Die Protea-vroue verslaan Nieu-Seeland in die tweede T20 en maak die reeks gelykop
# ‘n Ekonoom van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê die toenemende Midde-Oosterse konflik veroorsaak internasionale oliepryse van meer as 100-dollar per vat en dit kan selfs hoër styg. Parsons sê Suid-Afrika is ‘n olie-afhanklike ekonomie en kan hoër vervoer- en voorsieningskoste, stygende brandstof- en kunsmispryse, en druk op inflasie en groei te wagte wees. Hy glo gekoördineerde regeringsoptrede, duidelike kommunikasie en geteikende maatreëls kan huishoudings en ondernemings teen die uitwerking beskerm:
# Eskom sê hy werk daaraan om seker te maak toekomstige versoeke om tariewe te verhoog, bly billik en bekostigbaar vir privaat en sake-klante. Die energiereguleerder, NERSA, het ‘n gemiddelde tariefverhoging van 8,76-persent goedgekeur vir verbruikers wat elektrisiteit regstreeks van die kragverskaffer koop. Munisipale massa-aankopers se tarief styg in Julie met gemiddeld 9,01-persent. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê NERSA neem bekostigbaarheid en die kragstelsel se langtermyn-volhoubaarheid in ag:
# Die polisie in Gauteng het een verdagte in hegtenis geneem in verband met die naweek se noodlottige skietvoorval in Eldoradopark. Ongeveer agt mans het Saterdagaand by ‘n sosiale geleentheid opgedaag en wild op die gaste geskiet. Twee mense is op die toneel dood en nog ses gewond. Polisiewoordvoerder Fezeka Khobo sê hulle sal toesien dat al die verdagtes vasgetrek en vervolg word.
Nuus uit die buiteland:
# Afganistan beskuldig Pakistan dat hy ʼn lugaanval uitgevoer het op ʼn hospitaal vir dwelmbehandeling in Kaboel. Volgens berigte is minstens 400 mense dood en byna 250 beseer. Die voorval vererger die konflik wat laat verlede maand tussen die twee lande losgebars en tot herhaalde oorgrensaanvalle gelei het. Die Afgaanse regering sê dit druis in teen alle aanvaarde beginsels en is ʼn misdaad teen die mensdom. Pakistan ontken dat hy burgerlike persele teiken en sê hy fokus spesifiek op militêre instellings en infrastruktuur wat terroriste ondersteun.
# Krieket: Die Protea-vroue het Nieu-Seeland in Hamilton met 18 lopies verslaan om die reeks van vyf T20s gelykop te maak. Tazmin Brits het 53 gemoker, kaptein Laura Wolvaardt ʼn onoorwonne 41 en Kayla Reyneke ‘n blitsige 28 van net nege balle, en die besoekers het 177 vir vyf aangeteken. Ayabonga Khaka het daarna vier paaltjies laat kantel en Nonkululeko Mlaba drie, en die tuisspan is uitgeboul vir 159. Nieu-Seeland het die eerste wedstryd met 80 lopies gewen. Die derde T20 vind Vrydag in Auckland plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-153-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-14-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 100-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….