Nuus 11:00
BULLETIN 16 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa versoek die spoedige afhandeling van ‘n aansoek om regter Khampepe se onttrekking
# Trump eis lande moet Amerika help om die Seestraat van Hormuz oop te maak
# En motorsport: Die Katarse MotoGP is herskeduleer weens die konflik in die Midde-Ooste
# President Cyril Ramaphosa is bekommerd oor die aansoek voor die Gautengse Hooggeregshof dat oudregter Sisi Khampepe haarself moet onttrek aan die kommissie wat kyk na vertragings met die ondersoeke na apartheidera-misdade. Oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki het die aansoek ingedien. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die huidige hersieningsaansoek kan nadelig wees vir die belange van die slagoffers wat afsluiting en verantwoording van die regering wil hê:
# Die EFF sê die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, se reaksie oor die werwing en salarisverhoging van die sekretaris van die Parlement, Xolile George, is teenstrydig. Die party het Maluleke gevra om haar kantoor se rol in sy omstrede werwing en buitensporige salaris van 4,4-miljoen-rand te verduidelik. Die EFF sê Maluleke sê in haar reaksie haar kantoor het nie ‘n spesiale oudit gedoen om George se salaris te hersien nie, maar eerder op die gereelde oudit van die Parlement staatgemaak. Die party sê dit weerspreek die openbare indruk wat geskep is dat ‘n omvattende ouditondersoek gedoen is.
# Die Wes-Kaapse kabinet beklemtoon dat die sukses van die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die provinsie van ‘n geïntegreerde operasie sal afhang. Die ontplooiing sal fokus op talle polisiedistrikte met hoë misdaadsyfers, wat saam ongeveer 55-persent van geweldsmisdaad verteenwoordig. Premier Alan Winde sê dis belangrik om te verseker dat die ontplooiing intelligensiegedrewe en samewerkend is, en bepaal word deur lesse wat uit vorige Weermag-ontplooiings geleer is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, eis dat lande wat van die Seestraat van Hormuz afhanklik is, hul eie olieverskepings moet beskerm. Die roete waarlangs 20-persent van die wêreld se olie vervoer word, is feitlik gesluit sedert die begin van die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran, wat vrese oor energievoorsiening veroorsaak. Trump het joernaliste op Air Force One gewaarsku dat NAVO ‘n slegte toekoms kan verwag as sy lede nie optree nie:
MotoGP het intussen bevestig dat die Katarse Grand Prix, wat oorspronklik volgende maand sou plaasvind, tot 8 November uitgestel is weens die voortgesette geopolitieke situasie in die Midde-Ooste. Die Portugese Grand Prix sal nou op 22 November plaasvind, met die seisoen se laaste wedren in Valencia wat na 29 November skuif. MotoGP se uitvoerende hoof, Carmelo Ezpeleta, sê die besluit is hoofsaaklik geneem om die veiligheid, welstand en ‘n geleentheid van die allerbeste gehalte vir alle deelnemers en bywoners te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-878-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-12-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….