Nuus 11:00
BULLETIN 15 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu is gereed om sy politieke pligte in die ANC te hervat
# Werkverliese en melktekorte gevrees met bek- en klouseerregulasies wat die suiwelbedryf tref
# Tennis: Sinner klop Zverev om die Indian Wells-eindstryd te haal
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, is gereed om sy politieke pligte binne die ANC te hervat, nadat hy vrywillig uit die nasionale uitvoerende komitee en nasionale werkkomitee getree het. President Cyril Ramaphosa het Mchunu op spesiale verlof geplaas na bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi van polisie-inmenging. Tydens Mchunu se gebedsbyeenkoms in Durban het sy woordvoerder, Sithembiso Mshengu, gesê Mchunu gaan aan die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula skryf oor die besluit:
# Cosatu het die regering aangespoor om pogings te verskerp om onwettige goedere en doeanebedrog te bestry. Die federasie sê die beplande nasionale program om die onwettige ekonomie te ontwrig, insluitend onwettige invoere en onderfakturering, bevoordeel plaaslike nywerhede, werkgeleenthede en belastinginkomste. Matthew Parks van Cosatu vra vir strenger inspeksies by hawens, en beter vervolging en koördinering tussen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, polisie en ander owerhede:
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het meer befondsing vir die kreatiewe sektor belowe. McKenzie het gisteraand by die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisie-toekennings gepraat en rolprentmakers en televisiereeksvervaardigers bedank vir die volhoubaarheid van die bedryf ondanks finansiële probleme. McKenzie het erken dat die regering nie genoeg gedoen het nie. Hy het belowe om hom te beywer vir groter beleggings en sterker ondersteuning vir die sektor en gesê betekenisvolle verandering sal gesien word wanneer toestande verbeter. McKenzie het belanghebbended genooi om in die bedryf deur middel van beleggings te ondersteun.
# Suid-Afrika se suiwelbedryf waarsku dat nuwe regulasies wat met die uitbreking van bek-en-klouseer verband hou, tot melktekorte en werkverliese kan lei. Die Verbruikersgoedereraad van Suid-Afrika sê beperkings op suiweluitvoere en -verwerking kan maatskappye dwing om op te hou om melk van sommige boere te koop. Bedryfsleiers waarsku dat die situasie die hele suiwelwaardeketting kan ontwrig, voedselsekerheid kan bedreig en aansienlike druk op produsente en werkers regoor die sektor kan plaas. Die hernude uitbrekings van die siekte in sewe provinsies skep enorme finansiële druk, met verliese in die sektor wat reeds een-miljard-rand oorskry.
# Tennis: Jannik Sinner gaan in die eindstryd van die Indian Wells in Kalifornië teen Daniil Medvedev te staan kom nadat hy Alexander Zverev met 6-2, 6-4 geklop het. Die wêreld-nommer-twee het agt kishoue en 18 wenners geslaan en net 13 ongedwonge foute gemaak terwyl hy sewe van sy agt punte by die net gewen het. Die 24-jarige Italianer het tot dusver in die toernooi nie ‘n enkele stel afgestaan nie. In die tweede halfeindstryd is Carlos Alcaraz se hoop op ‘n derde Indian Wells-titel verydel toe Medvedev die wêreld-nommer-een met 6-3, 7-6 uitgeskakel het.
En nog nuus van Indian Wells: Aryna Sabalenka en Elena Rybakina gaan sake uitspook in die eindstryd in ‘n herhaling van hulle Australiese Ope Grand Slam-titelstryd. Die wêreld-nommer-een, Sabalenka, het Linda Noskova in skoon stelle geklop, terwyl die tweemalige Grand Slam-kampioen Rybakina vir Elina Svitolina van Oekraïne ook in skoon stelle uitgeskakel het. Vandag se kragmeting sal die derde eindstryd tussen Rybakina en Sabalenka die afgelope ses maande wees. Rybakina het hul vorige twee ontmoetings gewen – die WTA-jaaareindtrofee in November en die Australiese Ope-titel ses weke gelede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….