Nuus 11:00
BULLETIN 14 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Misdaadkenner sê Shibiri se getuienis voor die Madlanga-kommissie was teenstrydig
# Die Padvragvereniging sê wêreldwye druk op olie sorg vir plaaslike brandstofprysstygings
# En Eskom vier 300 dae sonder beurtkrag
# Die kriminoloog, Kholofelo Rakubu, sê die geskorste hoof van die polisie se georganiseerde misdaadafdeling, Richard Shibiri, se getuienis voor die Madlanga-kommissie het hom as ‘n onbetroubare getuie uitgebeeld. Rakubu het aan SABC News gesê Shibiri se ontwyking en teenstrydige verklarings het sy geloofwaardigheid verswak, sy integriteit onder druk geplaas en hom uitgewys as teësinnige samewerker. Dit sluit in twyfelagtige bewerings oor kriminele sindikate, wat bewyse van moontlike skakels uitlig. Sy sê daar is kommer oor verdeeldheid binne die SAPD-leierskap:
# Die bestuurshoof van die Padvragvereniging, Gavin Kelly, sê wêreldmarkdruk en ‘n swakker rand is die belangrikste dryfvere vir stygende brandstofpryse in Suid-Afrika. Kelly sê internasionale kommer oor olievoorsiening en geopolitieke onbestenigheid, insluitend die Midde-Oosterse konflik, het ru-oliepryse verhoog, wat plaaslike brandstofpryse beïnvloed. Kelly waarsku dat hoër brandstofpryse vervoer- en logistieke koste regoor die ekonomie sal verhoog. Hy doen ‘n beroep op die uitbreiding van alternatiewe energie, sintetiese brandstofproduksie en infrastruktuur om die afhanklikheid van ingevoerde petroleum te verminder.
# Suid-Afrika het 300 opeenvolgende dae sonder beurtkrag bereik, wat ‘n belangrike mylpaal is vir Eskom se Opwekkingsherstelplan. Volgehoue kragstasieprestasie het die Energiebeskikbaarheidsfaktor op 65,85-persent geplaas, onbeplande onderbrekings het op ‘n jaargrondslag met 53-persent gedaal, terwyl dieselkoste 57-persent minder is. Die Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê vyf-duisend-861 megawatt word in reserwe gehou terwyl die kragverskaffer voortgaan om die netwerk te bestendig en drie-duisend-330 megawatt voor spitstyd aanlyn te bring:
Eskom sê intussen die instelling van ‘n vaste elektrisiteitstarief is nie haalbaar nie. Dit volg nadat inwoners van Diepkloof in Soweto ‘n maandelikse tarief van 350-rand geëis het. Inwoners het na Eskom se Soweto-kantoor opgeruk teen die installering van slim voorafbetaalde meters. Eskom-woordvoerder Amanda Qithi sê fakturering moet gebaseer bly op verbruik omdat huishoudings se gebruik verskil. Sy sê tariewe moet deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika goedgekeur word.
# President Donald Trump sê die Verenigde State het elke militêre teiken op Iran se Kharg-eiland, ‘n kritieke ru-olie-uitvoersentrum, uitgewis. Hy het ook gedreig om die eiland se olie-infrastruktuur aan te val as Iran voortgaan om skepe deur die Straat van Hormoes te blokkeer. Iran sê enige aanval op sy energie-infrastruktuur sal lei tot vergeldingsaanvalle op streekfasiliteite wat met Amerika verbind word. Volgens Iranse staatsmedia was daar meer as 15 ontploffings , maar geen olie-infrastruktuur is beskadig nie. Kharg-eiland is ‘n agt kilometer lange stuk land langs die Iranse kus wat ongeveer 90-persent van die land se ru-olie-uitvoere hanteer.
# En motorsport: George Russell het vroeër vanoggend die Chinese Grand Prix-snelren vir Mercedes gewen om sy Formule Een-kampioenskapsvoorsprong te vergroot. Die Brit het op die voorste wegspringplek by die Sjanghai Internasionale Renbaan begin en voor die Ferrari-duo Charles Leclerc en Lewis Hamilton geëindig nadat ‘n veiligheidsmotor in die 19-ronde die wedren ontwrig het. Dit is die 28-jarige Russell se eerste snelren-oorwinning van sy loopbaan. Hy het verlede naweek die Australiese Grand Prix gewen en het in 2025 vierde in die bestuurderskampioenskap geëindig. Die snelren het die dag se gebeure afgeskop voor die kwalifisering vir Sondag se Grand Prix later vandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….