Nuus 11:00
BULLETIN 12 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa moet vandag parlementêre vrae beantwoord oor die Madlanga-kommissie, die waterkrisis en misdaad
# Die VN-Veiligheidsraad aanvaar ‘n voorstel om Iran se aanvalle op sy buurlande in die Golf te veroordeel
# En rugby: Oscar Jegou van Frankryk is vir vier wedstryde geskors na die oogkrap-voorval teen Skotland
# President Cyril Ramaphosa gaan vanmiddag vrae beantwoord in die Nasionale Vergadering oor onder meer die werk en tussentydse verslag van die Madlanga-kommissie. Hy sal ook meer inligting gee oor die stigting van die Nasionale Waterkrisis-komitee wat water-uitdagings moet aanpak. Die Presidensie sê Ramaphosa sal ook verslag doen oor die vordering van doelstellings soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Mediumtermyn-Ontwikkelingsplan, en veilgheidsingrypings by onwettige mynbedrywighede en bendegeweld.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê hoewel Suid-Afrika se beleid spesifieke kenmerke het om geskiedkundige ongeregtigheid teen te werk, is dit in ooreenstemming met internasionale beleggingspraktyke. Die die Amerikaanse president, Donald Trump, het die regering versoek om onder meer die Onteieningswet en die beleid vir swart ekonomiese bemagtiging, te heroorweeg. Lamola sê die Onteieningswet is nie bedoel om eiendomsregte te ondermyn nie:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê voortgesette monitering van sanitêre produkte is noodsaaklik, en vroue moet toegang hê tot veilige en bekostigbare menstruasieprodukte. Dit volg op die regering se versekering dat plaaslik-vervaardigde sanitêre doekies veilig is, ondanks ’n studie deur die Universiteit van die Vrystaat wat klein hoeveelhede hormoonversteurende chemikalieë in 16 handelsmerke opgespoor het. Phakamile Hlubi-Majola van MISA vra duideliker etikettering, strenger regulasies en voortgesette navorsing om vroue se gesondheid te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het eenparig ’n voorstel aanvaar om ’n einde te maak aan Iran se aanvalle op sy buurlande in die Golf. Dit veroordeel Iran se onlangse missiel- en hommeltuigaanvalle op Bahrein, Koeweit, Oman, Katar, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Jordanië. Bahrein se VN-ambassadeur, Jamal Alrowaiei, sê die internasionale gemeenskap verwerp Iran se aanvalle op soewereine lande in ’n streek van strategiese belang vir die wêreldekonomie:
# Rugby: Die Franse flank Oscar Jegou is vir vier wedstryde geskors en sal Saterdag Les Bleus se laaste Sesnasies-wedstryd teen Engeland misloop. ’n Onafhanklike tugkomitee het bevind die 22-jarige speler het op roekelose wyse kontak gemaak met die Skotse plaasvervanger-haker Ewan Ashman se oë tydens verlede naweek se nederlaag van 50-40 in Edinburgh. Die komitee het Jegou vir ses wedstryde geskors, maar twee opgeskort danksy sy goeie tugrekord en die feit dat Ashman nie permanente beserings opgedoen het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-166-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….