Nuus 11:00
BULLETIN 10 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wêreldbank ondersteun Suid-Afrika om infrastruktuurontwikkeling te versnel
# Trump waarsku Iran om nie die Seestraat van Hormuz te versper nie
# En rugby: Die seweswêreldreeks verskuif die naweek na New York
# Die Wêreldbank het die Suid-Afrikaanse Gemengde Finansieringsplatform vir Veerkragtige Infrastruktuurprogram goedgekeur. Dit sal krediet-gewaarborgde gereedskap skep om beleggersrisiko te verminder en befondsing vir infrastruktuur-ontwikkeling te bevorder. Die platform, wat ’n privaat nie-lewensversekerings-maatskappy sal wees, sal oor die volgende dekade sowat 160-miljard-rand se kapitaal bekom. Die Nasionale Tesourie sal aanvanklik twee-miljard-rand bydra. Die Wêreldbank sê belegging in infrastruktuur is belangrik vir Suid-Afrika se pogings om groei te bevorder en werk te skep.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging het kommer uitgespreek oor Volkswagen Suid-Afrika se toenemende herroepings van Polo Vivo’s. MISA sê handelaars en verkoopspersoneel ervaar dikwels verbruikersfrustrasie al het hulle geen beheer oor vervaardigingsfoute nie. Phakamile Hlubi-Majola van die vakbond sê herroepings weerspieël moderne voertuie se veiligheidstelsels en is deel van ‘n wêreldwye motorveiligheids-kultuur. Sy vra vervaardigers om werkers te ondersteun terwyl motoriste se veiligheid voorkeur kry.
# Limpopo se polisie het lasbriewe om vandag sewe mense aan te keer in verband met moord om versekering van tien-miljoen-rand te eis. Die gewese polisiesersant, Rachel Kutumela, word hierby betrek. Hulle het blykbaar lewensversekering en begrafnispolisse uitgeneem op die lewens van tien mense wat later vermoor is. Kutumela het die slagoffers geken, wat uit arm omstandighede gekom het. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê drie mense is reeds vanoggend in hegtenis geneem:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, waarsku Iran se poging om olie-verskeping deur die Seestraat van Hormuz te ontwrig, sal ‘n reaksie ontlok 20 keer hewiger as vorige aanvalle. Iran se Revolusionêre Wag het gewaarsku indien die Israels-Amerikaanse aanvalle voortduur, hulle olie-verskeping sal verhoed op dié roete wat 20-persent van die wêreld se olie vervoer. Trump sê olievoorraad sal in die lange duur beduidend veiliger wees sonder Iranse skepe en missiele:
# Rugby: Die seweswêreldreeks verskuif hierdie naweek na New York nadat Suid-Afrika Sondag die toernooi in Vancouver, Kanada, gewen het. Die Blitsbokke het met hulle derde titeloorwinning sover die seisoen vir Fidji ingehaal, wat in die halfeindronde uitgeskakel is. Slegs punteverskil maak dat die eiland-manne voor Suid-Afrika bo-aan die punteleer is. Suid-Afrika speel in die Amerikaanse stad hulle groepswedstryde teen Australië, Frankryk en Nieu-Seeland, terwyl Spanje, Fidji, Argentinië en Groot-Brittanje in Groep B meeding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-936-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-175-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….