Nuus 11:00
BULLETIN 30 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika gaan voort met sy afwaartse trajek op die korrupsie-aanwyser
# Sakeliga daag die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake voor die hof vir minagting
# En, byna 100 mense is sedert die begin van die jaar in die Middellandse See dood of vermis
# Suid-Afrika het nog twee punte gedaal tot 41 op 2023-korrupsie-aanwyser. Dis die land se laagste telling ooit. Die aanwyser gee aan 180 lande en gebiede in die wêreld punte volgens hulle waargenome korrupsievlakke in die openbare sektor. Suid-Afrika is een van 23 lande wat vanjaar hulle laagste telling ooit bereik het en val nou in die kategorie vir gebrekkige demokrasieë. Corruption Watch se uitvoerende direkteur, Karam Singh, sê die stryd vir geregtigheid en stryd teen korrupsie gaan hand aan hand, want waar die regstelsel nie die oppergesag van die reg afdwing nie, gedy korrupsie.
# Die sake-organisasie Sakeliga het ‘n aansoek by die Hooggeregshof ingedien om die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake skuldig te verklaar aan minagting van die hof. Dit volg op versuim om ingevolge ‘n hofbevel rekords bekend te maak oor die ingrypende besluite oor die Covid-19-inperking wat in 2020 agter geslote deure geneem is. Uitvoerende hoof Piet le Roux sê indien hulle slaag, sal die huidige minister, Thembi Nkadimeng, die rekords beskikbaar moet stel wat sy en haar voorganger, Nkosazana Dlamini-Zuma, tot nou toe van die publiek weerhou het:
# Die president van ActionSA, Herman Mashaba, en die Gautengse voorsitter, Funzi Ngobeni, gaan vandag ‘n betoging voor die hoofkantoor van die Departement van Binnelandse Sake lei. Hulle wil die party se voorlegging oor die witskrif op Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming oorhandig. Malaika Ditabo van Action SA sê dit is onwaarskynlik dat die beplande hervormings Suid-Afrika se immigrasiekrisis sal oplos sonder die nodige gepaardgaande omvattende verbeterings:
# Die Internasionale Organisasie vir Migrasie sê eenvormige en volhoubare meganismes is nodig om nóg onnodige lewensverlies op gevaarlike roetes te verhoed en mense te beskerm wat elders ‘n heenkome soek. Bykans 100 mense is vanjaar in die sentrale en oostelike deel van die Middellandse See dood of het daar verdwyn. Die sekretaris-generaal van die organisasie, Amy Pope, sê die jongste syfers is ‘n ernstige wekroep dat ‘n omvattende benadering met veilige roetes die enigste oplossing is waardeur immigrante én lande in die gebied sal baat.
# Rugby: Die losskakel Marcus Smith kan dalk Saterdag Engeland se eerste Sesnasies-wedstryd teen Italië misloop. Dit volg nadat hy na gister se oefening mank geloop en later met krukke opgemerk is. Smith se besering beteken Steve Borthwick se span het moontlik net twee losskakels oor – George Ford en die nuweling Fin Smith. Engeland moet reeds sonder Manu Tuilagi, Ollie Lawrence en Anthony Watson klaarkom, wat almal beseer is. Die aanvals-afrigter, Richard Wigglesworth, sê dit sal ‘n terugslag vir die span wees as Smith nie gereed en fiks is nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-403-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….