Nuus 11:00
BULLETIN 6 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana waarsku volgehoue hoër oliepryse weens die oorlog in die Midde-Ooste kan inflasie opjaag
# Die DA verwelkom die Hooggeregshof-uitspraak oor die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde
# En motorsport: Charles Leclerc en Oscar Piastri gee die pas aan in die oefenrondes in Melbourne
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, waarsku hoër oliepryse weens die Midde-Oosterse oorlog kan Suid-Afrika se inflasie laat styg en ekonomiese vooruitsigte raak. Die prys van Brent ru-olie het dié week met byna 16-persent gestyg omdat skeepsvervoer tot stilstand gekom het in die Straat van Hormuz, waardeur ‘n vyfde van die wêreld se olie vervoer word. Godongwana het aan Bloomberg Television gesê Suid-Afrika kan die uitwerking van die oorlog weerstaan:
# Die DA verwelkom die Wes-Kaapse Hooggeregshof se beslissing dat ’n gedeelte van die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde ongrondwetlik en ongeldig is. Die party het Artikel 7(4) uitgedaag wat die minister van Finansies mag gee om die BTW-koers te verander. Die DA se Federale Raadsvoorsitter, Helen Zille, sê dit bevestig hulle standpunt dat die mag om belasting te bepaal nie aan die uitvoerende gesag oorgedra kan word nie:
# Die vakbondfederasie Cosatu sê die sewe jaar-ronkstraf wat opgelê is aan die voormalige parlementslid Vincent Smith stuur ‘n sterk boodskap dat niemand bo die wet verhewe is nie. Die federasie verwelkom Smith se skuldigbevinding vir sy rol in die Bosasa-staatskaping en korrupsieskandale, aangesien dit ‘n mylpaal in die stryd teen korrupsie is. Matthew Parks van Cosatu sê die ondersteuning van die Nasionale Vervolgingsgesag, die Valke, asook die regbank is noodsaaklik om openbare vertroue te herstel:
# Die Vryheidsfront Plus sê Gauteng ondervind ‘n ernstige veiligheidskrisis, met die jongste polisiestatistieke wat dui op hoë vlakke van geweldmisdaad tussen Oktober en Desember. Terwyl moorde, huisrooftogte en sakerooftogte effens gedaal het, is ontvoerings, aanrandings, seksuele oortredings, kapings en georganiseerde misdaad besig om toe te neem. Jaco Mulder van die party vra sterker optrede teen misdaadsindikate, onwettige vuurwapens en grensbeveiliging. Hy waarsku dat veiligheid noodsaaklik is vir gemeenskapsbestendigheid, ekonomiese groei en werkskepping.
# Motorsport: Ferrari se renjaer, Charles Leclerc, het die pas aangegee in die eerste oefenronde vir die Australiese Formule Een Grand Prix in Melbourne. Sy spanmaat Lewis Hamilton was tweede vinnigste en Max Verstappen van Red Bull derde. In die tweede ronde was Oscar Piastri van McLaren die vinnigste, gevolg deur die Mercedes-renjaers Kimi Antonelli en George Russell. Die heersende wêreldkampioen, Lando Norris van McLaren, het onderskeidelik 19de en sewende vinnigste gevaar. Sondag se Grand Prix is die eerste wedren onder die nuwe tegniese regulasies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-801-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-109-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….