Nuus 11:00
BULLETIN 4 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE betreur die dood van sy leier, Mosiuoa Lekota
# Die Amerikaanse Senaat gaan stem oor ‘n voorstel om Trump se militêre optrede in Iran te beperk
# En krieket: Markram sê hulle is lugtig vir Nieu-Seeland in die aanloop tot hul T20-Wêreldbeker-halfeindstryd
# COPE betreur die dood van sy stigtersleier, Mosiuoa Lekota. Die 77-jarige anti-apartheidsaktivis, wat algemeen bekend was as ‘Terror’, is na ‘n lang siekbed in ‘n hospitaal oorlede. Lekota het in verskeie hoedanighede in die regering gedien, insluitend as premier van die Vrystaat en minister van Verdediging, en was ook ANC-voorsitter onder Thabo Mbeki tussen 2002 en 2007. Pakes Dikgetsi van Cope sê die gedenk- en begrafnisreëlings sal nog oorgedra word:
# Die Campaign for Free Expression and Moxii Africa het die Wes-Kaapse Hooggeregshof gevra om ‘n verpligte publikasieverbod op seksuele oortredings en afpersingsake ongeldig te verklaar. Hulle wil hê die wette moet vervang word met nouer maatreëls wat regte respekteer en klaers beskerm terwyl die publiek en die media sake kan ondersoek. Die organisasies meen die huidige reëls plaas ‘n onregverdige beperking op mediavryheid en deursigtigheid en kan selfs oorlewendes wat in die openbaar wil praat kriminaliseer.
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy het die plasing van graad 1- en 8-leerders afgehandel wat deur die 2026 aanlyn toelatingstelsel aansoek gedoen het. Altesaam 392-duisend-224 leerders wat deur hierdie stelsel aansoek gedoen het, is vir die huidige akademiese jaar by skole geplaas. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê 8,5-persent van die aansoeke is in die laataansoek-tydperk ingedien:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Senaat stem vandag oor ‘n Voorstel oor Oorlogsmagte deur albei partye om president Donald Trump se gebruik van geweld in Iran te beperk. Amerika en Israel het sedert Saterdag meer as tweeduisend teikens in Iran aangeval. Dié land se regering het met aanvalle in die Midde-Ooste gereageer. Trump het die Kongres ingelig die bedreiging wat Iran inhou is ondraaglik ondanks pogings tot ‘n diplomatieke oplossing. Die Demokratiese senator van Virginia, Tim Kaine, sê Amerikaners wil nie hê hy moet die land in onnodige oorloë insleep nie.
# Krieket: Die Protea-kaptein, Aiden Markram, sê hulle verwag vandag ’n taai stryd teen Nieu-Seeland in Kolkata in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika is nog onoorwonne en het in die groepsfase ’n oortuigende sege van sewe paaltjies oor die Swartpette behaal. Markram se span het nog nooit op ’n T20-wedstryd op Eden Gardens gespeel nie, maar hy is vol vertroue dat hulle by die toestande sal aanpas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-588-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-167-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….