Nuus 11:00
BULLETIN 3 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Benjamin Netanyahu sê Amerika en Israel se oorlog teen Iran sal nie jare lank duur nie
# Die EFF en die SAKP beplan ‘n konferensie van linkses voor die munisipale verkiesing
# En rugby: Rassie Erasmus sê die groep se diepte is hierdie seisoen noodsaaklik in die aanloop tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het gereageer op kritiek dat die jongste konflik in Iran tot ’n eindelose oorlog in die Midde-Ooste sal lei. Die gesamentlike aanvalle van Amerika en Israel op Iran het wraakaanvalle in die streek ontlok, insluitend op lande waar Amerikaanse Weermagbasisse is. Netanyahu het aan Fox News gesê Operasie Epic Fury sal eerder ’n tydperk van vrede en demokrasie in Iran inlui:
Die Suid-Afrikaanse vakverbond Cosatu het die aanvalle veroordeel en noem dit ongeregverdigde oorloë van aggressie en ‘n bedreiging vir burgerlikes reg oor die Midde-Ooste. Die vakverbond versoek die Verenigde Nasies om Israel en Amerika aanspreeklik te hou. Hy vra ‘n onmiddellike wapenstilstand en spreek solidariteit uit met die betrokke gemeenskappe. Zanele Sabela van Cosatu sê blywende vrede sal slegs bereik word wanneer die mense van Palestina vryelik in ‘n onafhanklike, soewereine staat kan leef:
# Die EFF en die SAKP wil ’n gesamentlike werksgroep stig om deel te neem aan voorbereidings vir ’n konferensie van linkses in aanloop tot die munisipale verkiesing. Die konferensie se mandaat sal wees om ’n duidelike, praktiese program te ontwikkel om demokratiese vooruitgang te verdedig en ekonomiese bevryding te bevorder. Die SAKP is in ’n alliansie met die ANC, maar gaan onafhanklik aan die verkiesing deelneem. Die EFF sê die bilaterale ontmoeting is ’n belangrike stap om weer eenheid onder die werkersklas te bou.
# Soek-en-herwinningsoperasies het hervat in Ormonde in die suide van Johannesburg nadat ’n gebou gister ingetuimel het. Ses werkers is dood nadat ’n deel van ’n struktuur in aanbou in ‘n sakepark meegegee het. Intussen het reddingswerkers twee liggame onder die betonblokke opgemerk, maar kon dit nog nie uithaal nie. Een persoon word vermis. Die burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, Mgcini Tshwaku, sê owerhede sal ondersoek instel om te bepaal of behoorlike bou-inspeksies uitgevoer is.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is goed geplaas voor ’n veeleisende seisoen waarin die groep se diepte belangrik sal wees. Die wêreldkampioen se seisoen begin op 20 Junie in Gqeberha met ’n wedstryd teen die Barbarians voordat hulle Nasieskampioenskap-veldtog op 4 Julie op Ellispark afskop teen Engeland. Nege-en-veertig spelers woon hierdie week ’n Springbok-belyningskamp in Kaapstad by. Erasmus sê langtermyn-beplanning is belangrik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-18-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-314-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….