Nuus 11:00
BULLETIN 2 Maart 11 vm
Goeiemôre . Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die begroting is gebalanseerd en weerspieël die ekonomie se werklikhede
# Steenhuisen sê nog 1,5-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof het uit Turkye aangekom
# En die Midde-Oosterse konflik brei uit met gevegte tussen Israel en Hizbollah
# President Cyril Ramaphosa sê verbetering in staatsfinansies, bestendiging van skuld, ’n kleiner begrotingstekort, beter kredietgraderings en groter markvertroue is alles tekens van ’n ekonomiese herstel. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se nasionale begroting weerspieël die ekonomie se werklikhede, beperkte hulpbronne, hoë werkloosheid en dringende infrastruktuurbehoeftes. Ramaphosa sê die bestendiging van staatsfinansies gee die regering ruimte om openbare belegging te versnel, die maatskaplike loon vol te hou en hulpbronne na hervorming te herlei, wat groei en werkskepping bevorder.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die landwye massa-inentingsveldtog teen bek-en-klouseer het begin nadat entstof in die land aangekom en vinnig versprei is. Die eerste groot besending van ‘n miljoen dosisse entstof van Argentinië het op 21 Februarie in Suid-Afrika aangekom. Steenhuisen sê nog 1,5-miljoen dosisse van die Turkse vervaardiger Dollvet het gister aangekom, met nog besendings wat binnekort uit Argentinië verwag word:
# Die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame sê Gauteng se besluit om befondsing vir kwintiel 5-skole met 60-persent te sny, is onaanvaarbaar. Adjunk-uitvoerende hoof, Riaan van der Bergh, het aan SABC News gesê die tydsberekening is problematies, is sonder raadpleging gedoen en volg nadat skole se begrotings reeds goedgekeur is. Hy waarsku die siening dat leerders hoër koste kan bekostig, is misleidend, en sê die besnoeiings sal ouers en skole onregverdig belas:
Nuus uit die Midde-Ooste:
# Israel se Weermag het bevestig dat hy die Irans-gesteunde militantegroep Hizbollah op verskeie plekke in Libanon aangeval het. Ontploffings is in die vroeë oggendure in die suidelike voorstede van die hoofstad, Beiroet, gehoor. Tien mense is dood en inwoners van meer as 50 dorpe is aangesê om te ontruim. Hizbollah het wraak geneem en missiele en hommeltuie na Israel afgevuur na die dood van Iran se opperleier, Ali Khamenei. Die Israelse Weermag sê enige vyand wat die land se veiligheid bedreig, sal ’n groot prys betaal.
# Motorsport: Suid-Afrika se MotoGP-ster, Brad Binder, is taamlik tevrede met die begin van die seisoen. Die Red Bull KTM-renjaer was Saterdag sesde in die snelwedren van die Thaise Grand Prix en gister sewende in die hoofwedren. Marco Bezzecchi van Aprilia het die wedren gewen, terwyl die wêreldkampioen, Marc Marquez van Ducati, vyf rondes voor die einde weens ’n beskadigde wiel moes onttrek. Binder sê hy kon beter gevaar het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-952-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-393-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 79-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….