Nuus 11:00
BULLETIN 13 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Ramaphosa moet die leierskap van die Komitee op Nasionale Konvensionele Wapenbeheer hersien
# Zelensky sê Oekraïne sal die oorlog teen Rusland seëvierend beëindig
# En rugby: Die Junior Bokke klop Georgië in die eerste van twee internasionale wedstryde
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa moet dringend bepaal of die huidige samestelling en leierskap van die Komitee op Nasionale Konvensionele Vuurwapenbeheer bevoeg is om hul statutêre en grondwetlike verpligtinge na te kom. Die komitee het verlede jaar slegs sewe keer vergader. DA-woordvoerder Chris Hattingh sê ‘n statutêre komitee wat vertrou word met die regulering van ʼn uitvoersektor van miljarde-rand kan nie vir ʼn kwart van die jaar verdwyn nie:
# Activists and Citizens Forum sê die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het ʼn gulde geleentheid om voor die Madlanga-kommissie te bieg en die waarheid te praat. Sy voortgesette getuienis kom te midde van deurtastende ondersoeke na bewerings van korrupsie en bande met georganiseerde misdaad in die Polisiediens. Woordvoerder Dennis Bloem sê Sibiya word van ernstige wangedrag beskuldig terwyl hy moes toesig hou oor belangrike ondersoeke:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, gaan vanaand sy provinsiale rede lewer in die Nasrec-uitstalsentrum in Johannesburg. Dit sal die provinsiale regering se aksieprogram en dienslewerings-voorkeure uiteensit vir vanjaar en die toekoms. Dit sluit water, misdaad en werkloosheid in. Die speaker van die Gautengse wetgewer, Morakane Mosupyoe, sê die toespraak is ook die opening van die wetgewer:
Nuus uit die buiteland:
# President Volodimir Zelensky sê Oekraïne sal beslis nie die oorlog teen Rusland verloor nie. Môre is die vierde herdenking van Moskou se volskaalse inval. Zelensky het aan die BBC gesê hy is daarteen gekant om die prys te betaal vir ‘n skietstilstandooreenkoms terwyl sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, eis Oekraïne moet onttrek aan strategiese grond wat Rusland nie kon verower nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het voorgestel dat Oekraïne moet toegee in ruil vir vrede. Zelensky sê om Putin te stop is ‘n oorwinning vir die hele wêreld.
# Rugby: Die Junior Springbokke het Georgië 35-0 afgeransel in die eerste van twee internasionale wedstryde op die Avchala-stadion in Tbilisi. Hendré Schoeman, Danie Kruger, Liam van Wyk, Kebotile Maake en Gert Kemp het drieë gedruk en Yaqeen Ahmed het al vyf verdoel. Die wedstryde is deel van voorbereiding vir die komende Junior Wêreldkampioenskap. Die Junior Bokke se hoofafrigter, Kevin Foote, loof sy span se vermoë om druk te hanteer en met integriteit te verdedig. Hy sê hulle moet werk aan hul uitvoering, veral hantering en besluitneming.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-861-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-150-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-70-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….