Nuus 11:00
BULLETIN 22 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die stryd teen misdaad is nog nie verby nie
# Herman Mashaba is ActionSA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg
# En dodelike ontploffings in westelike Oekraïne word as ’n ‘terroriste-aanval’ ondersoek
# Die ANC sê die land se stryd teen misdaad is nog lank nie verby nie. Die misdaadstatistiek vir die derde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar toon ‘n 8,7-persent daling in moord, 11,3-persent daling in roof met verswarende omstandighede en 8,1-persent in kapings. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê die dalende neiging wys wanneer strategie en uitvoering ontmoet, is daar gevolge:
Die Forum for South Africa het intussen ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn omvattende nasionale noodstrategie teen misdaad te ontwikkel. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê terwyl die regering voortgaan om misdaadstatistiek voor te hou as ‘n teken van deursigtigheid, leef Suid-Afrikaners onder beleg. Hy sê gemeenskappe landwyd word daagliks geteister deur misdadigers, georganiseerde sindikate, dwelmbase, onwettige vuurwapens en herhaaldelike oortreders wat sonder vrees vir gevolge misdade pleeg:
# ActionSA se president Herman Mashaba is die party se burgemeesterskandidaat vir die Stad Johannesburg in die komende munisipale verkiesing. Mashaba was van 2016 tot 2019 die stad se DA-burgemeester. Hy het in sy aanvaardingstoespraak gesê ActionSA bied kiesers geleentheid om Johannesburg se verval te keer. Mashaba het Operation Fix Joburg as deel van sy veldtog bekendgestel:
# Die burgerregte-organisasie, AfriForum, verwelkom president Cyril Ramaphosa se besluit om op hierdie stadium nie enige artikels van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te bekragtig nie, tot uitspraak gelewer word in openbaredeelname-sake teen die wet. Louis Boshoff van AfriForum sê dit wys Ramaphosa dink twee keer oor die NGV se instelling:
# Minstens een persoon is dood en tientalle beseer in ontploffings wat die westelike Oekraïnse stad, Lwiv, vroeër vandag getref het. Owerhede beskryf dit as ʼn terroriste-aanval. Die eerste ontploffing het by ʼn winkel naby die middestad plaasgevind nadat die polisie op die toneel opgedaag het, en is gevolg deur nog ʼn ontploffing toe ʼn tweede groep polisiebeamptes daar aankom. ʼn Drie-en-twintigjarige polisievrou is dood terwyl ʼn polisievoertuig en ʼn burgerlike voertuig beskadig is. Intussen is Oekraïne se hoofstad, Kiëf ook oornag met missiele en hommeltuie aangeval.
# En tennis: Carlos Alcaraz was op sy verwoestende beste toe hy die Katar Ope-titel gebuit het na ʼn genadelose sege van 6-2, 6-1 oor Arthur Fils. Die sewemalige Grand Slam-kampioen het net meer as 50 minute nodig gehad om die Fransman af te ransel en sy 26ste loopbaantitel op te raap. Die Doha-oorwinning volg na sy sukses by die Australiese Ope vroeër die maand toe hy op 22 ‘n loopbaan-Grand Slam behaal het. Dit was sy eerste toernooi sedert Melbourne en hy het nou sy aantal agtereenvolgende oorwinnings tot 12 uitgebrei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….