Nuus 11:00
BULLETIN 20 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisie-duikers en die honde-eenheid soek ‘n vuurwapen wat in die skietery by Robert Mugabe se seun se huis gebruik is
# Die DA sê die suikerbedryf se aanpassings moet voorkeur gee aan mededinging en langtermyn-volhoubaarheid
# En motorsport: Die president van Formule Een vra kalmte ná kritiek oor nuwe regulasies
# Die polisie het nog nie die vuurwapen gevind waarmee ʼn tuinier geskiet is by die huis van die gewese Zimbabwiese president Robert Mugabe se seun in Hydepark, Johannesburg, nie. Die polisie het gisteraand die misdaadtoneel afgesper en ʼn multidissiplinêre span bestaande uit forensies, duikers en ʼn honde-eenheid soek steeds na die vuurwapen. Bellarmine Mugabe en nog ʼn ongeïdentifiseerde verdagte is aangekla van poging tot moord. Die polisie sê hulle het beslag gelê op ʼn swart BMW met wit ligte wat aan Mugabe behoort.
# Die DA sê die onlangse wysigings aan die bestuursreëlings van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging en die suikerbedryf-ooreenkoms wat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, in die Staatskoerant gepubliseer het, moes lankal in die sektor plaasgevind het. Dit volg met die bevestiging dat Tongaat Hulett bankrot verklaar word nadat sakereddingpraktisyns alles moontlik gedoen het om die maatskappy te red. Mlondli Mdluli van die DA sê die suikerbedryf se toekoms kan nie net afhang van regulatoriese aanpassings of regeringsbeskerming nie:
# Die EFF het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, versoek om die volledige stigting van die oorsigkomitee oor die Presidensie te versnel. Die Parlement het dit verlede jaar goedgekeur as ‘n spesifieke reëlgebonde struktuur om ‘n oog te hou op die Presidensie se optrede en begroting. Woordvoerder Natasha Ntlangwini sê dis belangrik om te verseker die Presidensie tree nie buite die grense van parlementêre regulasies op nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die seketaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê die toekoms van kunsmatige intelligensie kan nie in die hande van ‘n paar lande of die giere van ‘n paar miljardêrs oorgelaat word nie. Hy het op die K-I-beraad in Nieu-Delhi, Indië, gepraat oor die begin van ‘n nuwe era waarin K-I die menslike beskawing ingrypend kan verander. Guterres is bekommer oor negatiewe gevolge indien K-I-groei nie beheer word nie:
# Motorsport: Formule Een se president, Stefano Domenicali, sê hy verstaan nie die paniek oor die nuwe regulasies vir hierdie seisoen nie. Die grootste reël-verandering in F1-geskiedenis raak voertuie, enjins en bande, terwyl koolstof-neutrale, volhoubare brandstowwe bekendgestel word. Die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen, beskryf die nuwe motors as Formule E op steroïde. Domenicali sê mense moet kalm bly omdat dit net die begin van ʼn nuwe reis is. Hy sê veranderings sal aangebring word indien nodig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-803-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-23-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie-71-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….