Nuus 11:00
BULLETIN 18 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp die daling in die werkloosheidskoers tot 31,4-persent
# Die DA verwelkom die een-miljoen bek-en-klouseer-entstofdosisse wat die naweek in Suid-Afrika verwag word
# En Paralimpiese Spele: Russiese en Belarussiese atlete gaan onder hul nasionale vlae aan die Winterspele deelneem
# Die EFF sê die sogenaamde daling in die werkloosheidskoers tot 31,4-persent in die vierde kwartaal van 2025 is net ‘n statistiese illusie wat ʼn sukkelende nasie moet paai. Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname het indiensneming met 44-duisend gestyg tot 17,1-miljoen. Die EFF sê Suid-Afrikaners word nie mislei deur persentasiepunt-aanpassings nie. Hy sê ware herstel moet volhoubare groei in indiensneming toon wat meer is as die toename in die arbeidsmag, asook ʼn afname in ontmoedigde werksoekers en ʼn dalende uitgebreide werkloosheidsyfer.
# Die DA verwelkom die minister van Landbou, John Steenhuisen, se bevestiging dat die eerste sending van een-miljoen dosisse bek-en-klouseer-entstof die naweek in Suid-Afrika sal aankom. Die regering beplan om die land se hele kudde van meer as 14-miljoen beeste oor die volgende 12 maande in te ent. Sowat 28-miljoen dosisse is nodig om die uitbreking te bekamp. Beyers Smit van die DA sê die entstof sal groot verligting bring vir die landbousektor:
# Die vakbond NUM sê die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie moet ʼn omvattende ondersoek instel na die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap. Dit volg nadat vyf mynwerkers gisteroggend deur ʼn modderstorting oorval is. Die reddingsoperasie gaan vandag voort. NUM se streeksekretaris, Mosepedi Sanane, sê hulle eis ʼn deursigtige proses om die oorsaak van hierdie ramp vas te stel, en of daar enige gebreke in veiligheidsprotokolle was:
Nuus uit die buiteland:
# Tien skiërs word vermis en ses is gestrand in ‘n sneeustorting wat ‘n helling naby die Tahoe-meer in Kalifornië getref het. Die vier gidse en 12 kliënte was gister op die laaste dag van ‘n driedaagse ski-uitstappie toe die sneeustorting voorgekom het. Kaptein Russell Greene van Nevada se sheriff-kantoor sê die ses oorlewendes is aangesê om so goed moontlik skuiling te soek in die gevaarlike toestande:
# Paralimpiese Spele: Die Internasionale Paralimpiese Komitee sê ses Russiese en vier Belarussiese atlete sal toegelaat word om onder hul landsvlae deel te neem aan volgende maand se Winterspele. Albei lande is verbied om aan Paralimpiese kompetisies deel te neem ná Moskou se inval in Oekraïne in 2022. Hulle het egter volle lidmaatskap teruggekry nadat lid-organisasies in September 2025 gestem het dat hul gedeeltelike skorsing opgehef word. Dis die eerste keer sedert 2014 se Spele in Sochi dat die Russiese vlag op die Spele sal wapper.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-824-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-934-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….