Nuus 11:00
BULLETIN 17 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering oorweeg ‘n versoek vir die verlenging van die ad hoc-komitee se ondersoek
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê aandag aan beleid- en infrastruktuurhindernisse kan die mynbousektor as aandrywer herstel
# En rugby: Drie Suid-Afrikaanse vroue-skeidsregters is ingesluit by twee Sesnasies-kompetisies vir vroue
# Die Nasionale Vergadering sal vandag ‘n derde versoek van die ad hoc-komitee oorweeg vir die verlenging van sy ondersoek na politieke inmenging in die strafregstelsel. Die huidige sperdatum is Vrydag. Die komitee versoek ‘n verlenging tot 31 Maart. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê ‘n ad hoc-komitee ontbind as hy nie sy taak teen die voorgeskrewe datum voltooi het nie, maar die speaker kan dit her-aktiveer:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die Suid-Afrikaanse mynbousektor kan van agteruitgang na groei omswaai indien beleids-, regulatoriese en infrastruktuurhindernisse aandag kry. Die sektor sukkel met burokratiese vertragings, beleidsonsekerheid, misdaad en mislukte logistiek. Die buro sê hervormings wat op junior mynwerkers en rompslomp gerig is, en die bevordering van verkenning, beveiliging van mynboubedrywighede en verbeterings met elektrisiteit en vervoer, kan die land se minerale rykdom ontsluit. Dit kan werk skep, beleggings lok en mynbou as ‘n ekonomiese sleutelaandrywer herstel.
# Die Wes-Kaapse regering wag steeds op die uitslag van toetse wat vir bek-en-klouseer gedoen is. Die monsters is onlangs op ‘n plaas in die Tuinroete-distrik geneem. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê beeste met moontlike simptome is aan die westekant van George opgemerk waarna monsters geneem en na ʼn laboratorium gestuur is om getoets te word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê president Donald Trump soek ‘n besliste einde aan die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. ‘n Tweede ronde vredesamesprekings onder leiding van Amerika sal vandag in Switserland begin, met Moskou wat hou by sy eise vir omvattende gebieds- en politieke toegewings, maar Kiëf verwerp dit. Rubio sê Amerika probeer net albei nasies help om ‘n voordelige ooreenkoms te bereik:
# Rugby: Drie Suid-Afrikaners is onder die wedstryd-beamptes wat Wêreldrugby aangekondig het vir vanjaar se vroue-Sesnasies-, die Stille Oseaan-vier en die eerste Onder-21 vroue-Sesnasiesreeks. Aimee Barrett-Theron en Zoë Naudé sal skeidsregters wees in die Sesnasiesreeks en Giana Viljoen sal in die Onder 21-reeks optree. Barrett-Theron sal slegs die tweede vrou wees wat in 50 toetse as skeidsregter optree wanneer sy beheer neem in die eerste Sesnasies-wedstryd tussen Frankryk en Italië. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê die drie word beloon vir hul harde werk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-317-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-912-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….