Nuus 11:00
BULLETIN 15 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Andries Nel belowe strenger optrede teen misdaad en ‘n sterker register vir seksoortreders
# Die Motorbedryf Personeelvereniging eis optrede oor onderwys, staatskaping en geslagsgeweld
# En sokker: CAF mag moontlik AFCON tot 28 spanne uitbrei
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê georganiseerde misdaad is die grootste bedreiging vir demokrasie en moet beslissend aangespreek word. Nel het in Mitchells Plain die ontplooiing teen bendegeweld verwelkom van geïntegreerde wetstoepassingspanne met die Suid-Afrikaanse Weermag se ondersteuning. Hy het ook die vordering met die keuring van skole aan die hand van die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders uitgelig. Daar is reeds meer as 16-duisend werknemers in die Wes-Kaap gekeur.
# Eskom het 319-duisend-811 slimmeters landwyd geïnstalleer, met 113-duisend-en-70 wat op lasverminderingsvoerders ontplooi is as deel van sy vordering met sleutel-ingrypings. Die woordvoerder, Daphne Mokoena, sê die uitrol ondersteun akkurate rekeninge en verbeterde netwerkstabiliteit. Ongeveer 119 voerders is van lasvermindering verwyder, wat meer as 151-duisend kliënte bevoordeel. Mokoena het egter gewaarsku dat weerstand en veiligheidsbedreigings 122-duisend beplande installasies vertraag het, met Eskom wat teen Maart 2026 meer as 577-duisend slimmeters op geteikende voerders wil installeer:
# Die Motorbedryf Personeelvereniging het die regering versoek om dringend Suid-Afrikaners se uitdagings te hanteer. Die woordvoerder Sonja Carstens sê beperkte universiteitsruimte ontneem jongmense toegang tot hoër onderwys. Sy het ook die stadige vordering in staatskapingsvervolgings gekritiseer en gesê die skuldigbevindings is onbeduidend en sonder verantwoordbaarheid. Carstens het geslagsgeweld en vrouemoord veroordeel en gewaarsku dat die verklaring daarvan tot ‘n nasionale ramp min beteken sonder meetbare uitkomste:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê die bekendstelling van biometriese verifikasie by SASSA-kantore het ongeveer 300-miljoen-rand bespaar. Die stelsel, in geselekteerde sentrums, bekamp bedrieglike toelae-eise deur te vereis dat ontvangers hul identiteit persoonlik verifieer. Tolashe sê ongeveer 210-duisend individue het verkeerdelik toelaes ontvang. Die inisiatief is daarop gemik om stelselsekerheid te verbeter, te verseker dat betalings begunstigdes bereik, en sal landwyd uitbrei na die bekendstellingsfase.
# Burundi het op die Afrika-Unie se 39ste beraad in Addis Abeba, die voorsitterskap vir 2026 oorgeneem. Burundi se president, Évariste Ndayishimiye, volg João Lourenço van Angola op. Ghana se president, John Dramani Mahama, is tot eerste ondervoorsitter verkies. Ndayishimiye het toegewyde diens aan Afrika met sy uiteenlopendheid belowe asook as eenheid, onpartydigheid en sterker wêreldwye voorspraak vir die vasteland:
# En, sokker: Die president van die Konfederasie van Afrikasokker, Patrice Motsepe, sê die Afrikabeker-toernooi kan uitbrei tot 28 spanne, met planne wat reeds bespreek word, alhoewel ‘n datum nog nie bevestig is nie. Die toernooi word tans tussen 24 spanne beslis. Motsepe sê die uitbreiding is om Afrika-sokker op te gradeer, mededingendheid te verbeter en die sport se wêreldwye aantrekkingskrag te versterk. Hy het herbevestig AFCON sal ná 2028 elke vier jaar gehou word. Motsepe ontken berigte dat die 2027-eindstryd van Kenia na Tanzanië en Uganda sal skuif, en beloof strenger dissiplinêre maatreëls ná onlangse omstredenheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….