Nuus 11:00
BULLETIN 12 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen verwerp berigte dat hy uit die leierskapstryd geskop is
# OUTA waarsku teen ‘n oorhaastige AARTO-ooreenkoms te midde van vrese oor privaat wins uit verkeersboetes
# En sokker: Kaartjies vir die Soweto-derby is in rekordtyd uitverkoop
# Die uittredende leier van die DA, John Steenhuisen, ontken berigte dat hy uit die leierskapstryd gedwing is. Hy het verlede week aangekondig dat hy nie in April vir ‘n derde termyn gaan staan nie. Die Helen Zille-faksie het hom glo oorreed om te onttrek weens kritiek oor sy hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking as minister van Landbou. Steenhuisen het aan die SABC gesê hy het bereik wat hy wou:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik waarsku dat privaat wins nie met die administrasie van verkeersboetes verbind moet word nie. OUTA verwys na die Padverkeersoortredingsagentskap se omstrede tender vir die AARTO-stelsel. Woordvoerder Stefanie Fick sê die tender, wat gedurende die Desember-vakansie uitgereik is, is oorhaastig hanteer en skep die gevaar dat bestaande staatsvermoë gedupliseer word, wat koste kan verhoog en staatstelsels verswak:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het inwoners verskoning gevra oor sy opmerking dat hy weens die huidige waterkrisis by ‘n hotel moes gaan bad. Groot dele van die provinsie is al weke lank sonder lopende water. Lesufi is op sosiale media daarvan beskuldig dat hy onsensitief is oor inwoners se lot. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê Lesufi erken dat mense sy woorde verkeerd kon verstaan:
Nuus uit die buiteland:
# Die Republikeins-geleide Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het ʼn voorstel aanvaar om president Donald Trump se tariewe teen Kanada om te keer. Dis met 219 stemme teen 211 aanvaar. Ses Republikeine en al die Demokrate, behalwe Jared Golden van Maine, het daarvoor gestem. Trump het onlangs gedreig om ʼn tarief van 100-persent in te stel op ingevoerde goedere uit Kanada na dié land se voorgestelde handelsooreenkoms met China. Die besluit gaan nou na die Senaat, maar selfs as dit aanvaar word, is dit onwaarskynlik dat Trump dit sal bekragtig.
# Sokker: Alle kaartjies is reeds uitverkoop vir die Soweto-derby tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates op die FNB-stadion in Johannesburg. Dit is in rekordtyd aanlyn en by kleinhandelaars opgeraap, terwyl baie ondersteuners teleurgesteld moes omdraai. Die organiseerders het ondersteuners sonder kaartjies aangeraai om nie op die 28ste by die stadion op te daag nie, aangesien daar streng sekerheidsmaatreëls sal wees. Aanhangers wat kaartjies het, word versoek om vroeg op te daag om die vooraf-vermaak te geniet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-en-50-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-59-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….