Nuus 11:00
BULLETIN 11 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NATJOINTS is gereed om ‘n veilige staatsrede te verseker
# Trump gaan Netanyahu in die Withuis ontvang te midde van toenemende spanning in die Midde-Ooste
# En rugby: Hollie Davidson van Skotland maak Saterdag Sesnasies-geskiedenis
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê uitgebreide veiligheids- en sekerheidsmaatreëls is ingestel om môre ‘n vreedsame en veilige staatsrede in Kaapstad te verseker. President Cyril Ramaphosa lewer die toespraak waarin hy belangrike beleidsvoorkeure en uitvoerbare doelwitte vir die komende jaar sal uiteensit. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle sal optree teen enige wetteloosheid, misdadigheid en wetsoortreding:
Build One South Africa waarsku intussen Suid-Afrika word ‘n gemeenskap sonder gevolge, met misdaadnetwerke wat in sleutelstaatsinstellings gevestig is. Die party sê toenemende misdaad, insluitend byna 80 moorde en meer as 130 verkragtings per dag, bedreig veiligheid en ekonomiese groei. BOSA se leier, Mmusi Maimane, vra Ramaphosa om die staatsrede te gebruik om dit duidelik te maak dat niemand bo die wet verhewe is nie, ongeag hul politieke posisie:
# Die EFF het die energiereguleerder, Nersa, se besluit veroordeel om skerper verhogings in elektrisiteitstariewe vir Eskom goed te keur. Nersa het agtereenvolgende verhogings van 8,76-persent vanjaar en 8,83-persent volgende jaar goedgekeur. Die aanpassing van sy aanvanklike verhoging van vyf-persent is om Eskom te vergoed nadat Nersa ‘n berekeningsfout gemaak het met ‘n vorige prysbepaling. Die EFF eis dat die verhoging van kragtariewe onmiddellik gestaak en Nersa se tariefbepaling en model vir volhoubaarheid ingrypend hersien word.
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, ontmoet vandag die Amerikaanse president, Donald Trump, in die Withuis te midde van toenemende spanning met Iran en uitdagings wat die Amerikaans-gesteunde Gaza-vredesplan betref. Dis sy sewende besoek aan Washington sedert Trump verlede jaar na die Withuis teruggekeer het. Netanyahu sê Iran is die belangrikste punt op die sakelys. Hy gaan volgens berigte aan Trump nuwe inligting verskaf oor Iran se militêre vermoëns. Israel is bekommerd oor die land se vordering met die herstel van sy voorraad ballistiese missiele.
# Rugby: Hollie Davidson van Skotland sê dis ‘n reuse-eer om wedstryde in die Sesnasies-reeks te hanteer. Die 33-jarige word Saterdag die eerste vroue-skeidsregter van ‘n manswedstryd in die Sesnasies wanneer Ierland Italië in Dublin ontvang. Sy het tot dusver geblaas in 47 toetse – 34 vroue- en 13 mans-wedstryde – in die Olimpiese en die Statebondspele, asook twee vroue-Wêreldbekertoernooie. Davidson hoop om jong meisies en seuns te inspireer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-730-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-62-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….