Nuus 11:00
BULLETIN 9 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê SAID is ‘n geloofwaardige bloudruk vir die heropbou van instellings se vermoë
# ‘n Pro-demokratiese mediamagnaat van Hongkong word 20-jaar tronk toe gestuur
# En krieket: Die Protea-kaptein is vol vertroue in die aanloop tot die eerste T20-Wêreldbekerwedstryd teen Kanada
# President Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is die vlagdraer vir ‘n bekwame staat, en ‘n geloofwaardige bloudruk vir die herbou van instellings se vermoë in die nasleep van die staatskaping-era. Hy het verlede week die SAID se Nasionale Bevelsentrum in Tshwane besoek. Die diens het in die vorige boekjaar die hoogste inkomste-invordering ooit behaal van 2,3-duisend-miljard-rand. Ramaphosa sê in sy weeklike nuusbrief net soos staatskaping oor ‘n lang tydperk plaasgevind het, sal heropbou nie oornag gebeur nie.
# Elektrisiteitstariewe gaan in 2026/2027 met 8,76-persent styg en in 2027/2028 met 8,83-persent nadat die energiereguleerder, Nersa, ‘n bykomende inkomste van 54,734-miljard-rand vir Eskom goedgekeur het. Dis ʼn poging om Nersa se regulatoriese batefout reg te stel. Eskom se regstreekse verbruikers betaal van 1 April meer en munisipale instellings vanaf 1 Julie. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die algehele bykomende inkomste sal in fases ingevorder word:
# Die Openbare Beskermer gaan volgens berigte die Gautengse Departement van Infrastruktuurontwikkeling kwytskeld oor drie kontrakte wat aan Ngwato and Manzi Group toegeken is. Dit word verbind met adjunkpresident Paul Mashatile se seuns, Thabiso Mashatile en Tinyiko Mvelase. Die departement het die maatskappy tussen November 2022 en November verlede jaar sowat 18-miljoen-rand betaal. Die Openbare Beskermer se kantoor het aan News24 gesê geen feitelike bewyse kon gevind word om die klagte te staaf dat die departement onbehoorlik opgetree het of sy toekenning van die kontrakte op wanadministrasie neerkom nie.
Nuus uit die buiteland:
# ʼn Hongkongse hof het die mediamagnaat en gesiene pro-demokratiese aktivis, Jimmy Lai, tot 20 jaar tronkstraf gevonnis weens beweerde oortreding van China se nasionale veiligheidswet. Die 78-jarige stigter van die Apple Daily-koerant is in Desember skuldig bevind aan samewerking met buitelandse magte, ingevaarstelling van nasionale veiligheid en sameswering om opruiende materiaal te publiseer. Dis die swaarste straf ooit onder ʼn nasionale veiligheidswet wat Beijing ingestel het. Ses gewese uitvoerende hoofde van die koerant het ook tronkstraf van ses tot tien jaar gekry.
# Krieket: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, sê hulle is vol vertroue voor vandag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Kanada in Ahmedabad, Indië. Suid-Afrika was in 2024 die naaswenner en is een van die gunstelinge om te wen ná hulle sege in verlede jaar se Wêreld-toetskampioenskap. Die ander lande in Groep D is Nieu-Seeland, Afganistan en die Verenigde Arabiese Emirate. Markram sê hulle sal versigtig wees teen Kanada:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-606-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-22-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….