Nuus 11:00
BULLETIN 7 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement reageer op die DA se bewerings van magsmisbruik en wanadministrasie
# Cosatu waarsku plaaslike nywerhede beskerm moet word in die nuwe ekonomiese vennootskap met China
# En rugby: Die Blitsbokke behaal twee oortuigende oorwinnings by die HSBC Sewestoernooi in Perth
# Die Parlement sê hy is steeds beskikbaar om kommerwekkende sake wat deur enige politieke party geopper word deur die toepaslike parlementêre prosesse aan te spreek. Die Parlement het gereageer op ‘n mediaverklaring deur die DA rakende bewerings van wanadministrasie en magsmisbruik. Die party het ‘n dossier van 393 bladsye ingedien oor ondermeer die buitensporige salarisverhogings van die parlementssekretaris, Xolile George. Woordvoerder Moloto Mothapo sê die DA behoort die kwessies binne die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Finansiële Bestuur te opper:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die Botswana-entstofinstituut het die voorsiening van 700-duisend dosisse bek-en-klouseer-entstof teen die einde van hierdie maand bevestig. Steenhuisen het die Landbounavorsingsraad se Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsingsfasiliteit besoek om die afhandeling van die eerste plaaslik vervaardigde bek-en-klouseer-entstowwe te aanskou. Hy sê Suid-Afrika het reeds deur die Botswana-entstofinstituut twee-miljoen entstowwe verkry, gemonitor en toegedien. Steenhuisen sê Suid-Afrika sal maandeliks voorrade van 700-duisend-dosisse in April, Mei en Junie ontvang.
# Die vakbondfederasie Cosatu sê hy is lugtig oor Suid-Afrika se nuwe ekonomiese vennootskapsooreenkoms met China. Die federasie verwelkom die moontlikheid vir uitgebreide handel en beleggings, maar waarsku dat voorsorgmaatreëls in plek gestel moet word om plaaslike werksgeleenthede, besighede en nywerhede te beskerm. Matthew Parks van Cosatu sê volgende maand se sperdatum vir die vroeë oesooreenkoms sal dalk nie genoeg tyd toelaat vir volledige konsultasie met arbeid en sakeondernemings nie:
# Eskom sê die kragstelsel toon steeds volgehoue bestendigheid, ondersteun deur voortgesette vordering deur die opwekkingsherstelplan en verbeterings in die energiebeskikbaarheidsfaktor om Suid-Afrika se langtermyn-energietoekoms te verseker. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die energiebeskikbaarheidsfaktor het verder tot 65,03-persent in die huidige boekjaar gestyg:
# Amerikaanse en Oekraïense onderhandelaars het ‘n ambisieuse Maart-doelwit bespreek vir Rusland en Oekraïne om tot ‘n vredesooreenkoms in te stem. Reuters haal drie ingeligte bronne aan wat sê die tydlyn sal waarskynlik verskuif, gegewe daar nog nie ‘n ooreenkoms oor die sleutelkwessie van grondgebied bereik kon word nie. Ingevolge die raamwerk wat deur onderhandelaars bespreek word, sal enige ooreenkoms aan ‘n referendum vir Oekraïnse kiesers onderhewig wees. Hulle sal terselfder tyd aan ‘n nasionale verkleising deelneem.
# En rugby: Die Blitsbokke het hul HSBC Sewes-veldtog in Perth met twee oortuigende oorwinnings afgeskop en sodoende ‘n vroeë plek in die uitklopfases verseker. Suid-Afrika het met ‘n kliniese oorwinning van 33–14 oor Spanje begin, met ‘n debuutdrie deur die tiener-ster Luan Giliomee as hoogtepunt. Hulle het die momentum in hul tweede Groep A-botsing behou en Argentinië met 19-12 geklop. Afrigter Philip Snyman het die span se verdedigende vasberadenheid en kliniese afronding geprys en sê later vanmiddag wanneer die span in die einstryd teen Fidji te staan kom sal hulle alles in die stryd moet werp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….