Nuus 11:00
BULLETIN 5 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder sê die toekomstige DA-leier moenie deur ‘n kabinetsposisie gekniehalter word nie
# Die hoof van die Verenigde Nasies vra Amerika en Rusland om ‘n nuwe ooreenkoms vir kernwapenbeheer te onderteken
# En rugby: Die Sesnasies begin vanaand in Parys
# Die politieke ontleder Daniel Silke raai die toekomstige DA-leier aan om nie ‘n kabinetsposisie te aanvaar nie, maar eerder ʼn ware visie vir die party te ontwikkel en uit te dra. John Steenhuisen gaan nie herkiesbaar wees op die party se verkiesingskongres in April nie, maar eerder fokus op sy amp as minister van Landbou. Silke sê die toekomstige leier moenie gekniehalter word deur die verantwoordelikhede van ʼn regeringsportefeulje nie:
Intussen word Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, beskou as gunsteling om Steenhuisen op te volg. Die formele aansoekproses vir die verkiesingskongres open op 27 Februarie. Hill-Lewis het lof ontvang vir sy bestuur van die metro. Ander name wat genoem word is die party se leier in Gauteng, Solly Msimanga, en die burgemeester van uMngeni in KwaZulu-Natal, Chris Pappas.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het sy ondersoek afgehandel na die moord op Emmanuel Mbhense. Sy liggaam is in April 2022 in ‘n meer in Germiston gevind. Daar word beweer beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie en privaat veiligheidspersoneel het Mbhense gemartel en vermoor. Lizzy Suping van OPOD sê die ondersoek, wat getuienis van Getuie D voor die Madlanga-kommissie ingesluit het, is nou na die direkteur van Openbare Vervolging verwys vir verdere optrede:
Nuus uit die buiteland:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, waarsku die verval van die nuwe START-ooreenkoms tussen Amerika en Rusland hou ‘n donker toekoms in vir internasionale vrede en veiligheid. Presidente Barack Obama en Dmitri Medvedev het die ooreenkoms in 2010 onderteken wat die lande se kernarsenale tot een-duisend-550 ontplooide strategiese plofkoppe elk beperk en beperkings op stelsels soos tussenkontinentale ballistiese missiele geplaas het. Rusland en Amerika beheer meer as 80-persent van die wêreld se kernplofkoppe. Guterres het Washington en Moskou aangemoedig om na die onderhandelingstafel terug te keer.
# Rugby: Vanjaar se Sesnasies-kompetisie begin vanaand in Parys met die verdedigende kampioen, Frankryk, en Ierland wat kragte meet. Die wedstryd begin tien-oor-tien, Suid-Afrikaanse tyd, op die Stade de France. Saterdagmiddag verwelkom Italië vir Skotland op die Stadio Olimpico in die hoofstad, Rome, en Engeland en Wallis pak mekaar diesefde aand op Twickenham in Londen. Die kompetisie word vanjaar van sewe na ses naweke verkort, met die laaste ronde wat die 14de van volgende maand plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-254-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-927-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….