Nuus 11:00
BULLETIN 3 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sakeman Suleiman Carrim nader die hof om die Madlanga-kommissie se dagvaarding uit te daag
# Die DA teiken misdaadsindikate agter grondbesettings en gekaapte geboue
# En rugby: Die Bok-afrigter sê die voorbereiding vir 2027 se Wêreldbekertoernooi gaan volstoom voort
# Die sakeman en ANC-lid, Suleiman Carrim, neem die Madlanga-kommissie vandag hof toe met ʼn dringende aansoek om die dagvaarding tersyde te stel wat hom dwing om voor die kommissie te getuig. Getuie X en Brown Mogotsi het hom in hulle getuienis betrek. Carrim voer in die hofstukke aan die kommissie wil hom dwing om te getuig voor hy ʼn regverdige kans gehad het om die bewyse teen hom uit te daag. Die kommissie gaan die aansoek teenstaan.
# Die DA sê die behuisingskrisis, wat meer as tien-miljoen mense sonder bekostigbare behuising laat, word deur misdadigers uitgebuit wat grondbesettings organiseer en geboue kaap. Die party het ‘n versoekskrif begin om hierdie onwettige bedrywighede te stop, waar desperate mense gedwing word om huur te betaal aan misdaadsindikate. Woordvoerder Luyolo Mphithi sê hulle voorgestelde wet teiken diegene wat voordeel trek uit die besettings, beskerm haweloses en herstel die regsorde:
# Action Society veroordeel die noodlottige skietery van ‘n Suid-Afrikaanse Lugmag-sersant, Michael Swanton, na bewering deur BBP-beskermingsbeamptes. Swanton is verlede week voor sy vrou geskiet tydens ‘n verkeersverwante voorval op die R80 naby Mabopane in Tshwane. Die organisasie waarsku dit dui op ‘n wyer patroon van wangedrag deur sogenaamde ‘Bloulig-Mafia’-eenhede. Juanita du Preez van Action Society sê totdat hervorming afgedwing word, dui blou ligte op gevaar, nie veiligheid nie:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê die Departement Justisie moet aanbeweeg na ander sake ná die jongste vrystelling van die Jeffrey Epstein-lêers. Die departement het verlede week meer as drie-miljoen bladsye oor die ondersoek na die ontslape seksoortreder vrygestel. Trump was blykbaar jare lank bekend met Epstein, maar sê hy het nie van sy misdade geweet nie. Hy voeg by sy administrasie het beter dinge om te doen:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die aankondiging van die wedstrydprogram vir 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië laat hulle toe om volstoom voort te gaan met hul beplanning en voorbereiding. Suid-Afrika, wat sy derde agtereenvolgende titel jaag, skop sy veldtog op 3 Oktober in Adelaide af teen Italië. Daarna reis hulle na Brisbane en Perth vir hul laaste twee groepwedstryde teen Georgië en Roemenië. Erasmus sê hulle gaan alles in hulle vermoë doen om seker te maak hulle is so goed as moontlik voorberei vir die toernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-594-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-881-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….